

Die Vandale was ’n Germaanse volk wat die eerste keer in geskrewe bronne genoem word as inwoners van wat vandag Pole is, tydens die tydperk van die Romeinse Ryk. Veel later, in die 5de eeu n.C., het ’n groep Vandale onder leiding van konings Vandaalse koninkryke gevestig, eers op die Iberiese Skiereiland en daarna in die westelike Mediterreense eilande en Noord-Afrika.
Argeoloë verbind die vroeë Vandale met die Przeworsk-kultuur, wat daartoe gelei het dat sommige skrywers hulle gelykstel met die Lugiërs, ’n ander groep Germaanse volke wat met dieselfde argeologiese kultuur en streek verbind word. Tydens die Markomanniese Oorloë het die Vandale na die Romeinse Dacia uitgebrei, en tydens die Krisis van die Derde Eeu na Pannonia. Omstreeks 330 n.C. is hulle deur die Gote tot Pannonia beperk, waar hulle toestemming van Konstantyn die Grote ontvang het om hulle te vestig. Omstreeks 400 het strooptogte deur die Hunne uit die ooste baie Germaanse stamme gedwing om weswaarts na die gebied van die Romeinse Ryk te migreer. Uit vrees dat hulle volgende geteiken sou word, is die Vandale ook weswaarts gestoot en het hulle in 406 saam met ander stamme die Ryn oorgesteek na Gallië.[2] In 409 het die Vandale die Pireneë oorgesteek na die Iberiese Skiereiland, waar die Hasdingers en die Silingers hulle onderskeidelik in Gallaecia (noordwes-Iberië) en Baetica (suidsentraal-Iberië) gevestig het.
Op bevel van die Romeine het die Wes-Gote Iberië in 418 binnegeval. Hulle het die Alane en die Silingers, wat hulself vrywillig aan die bewind van die Hasdingiese leier Gunderik onderwerp het, byna uitgewis. Gunderik is daarna in 419 deur ’n koalisie van Romeine en Suebe van Gallaecia na Baetica verdryf. In 429, onder koning Geiserik (regeer 428-'77), het die Vandale Noord-Afrika binnegegaan. Teen 439 het hulle die Vandaalse Ryk gevestig, wat die Romeinse provinsie Africa asook Sisilië, Korsika, Sardinië, Malta en die Baleariese Eilande ingesluit het. Hulle het verskeie Romeinse pogings om Africa te herower afgeweer en het in 455 die stad Rome geplunder. Hulle ryk het ineengestort tydens die Vandaalse Oorlog van 533-'34, waarin die magte van keiser Justinianus I die provinsie vir die Oos-Romeinse (Bisantynse) Ryk herower het.
Renaissance- en vroegmoderne skrywers het die Vandale as prototipiese barbare gekarakteriseer weens hulle 14 dae lange plundering van Rome,[3] wat gelei het tot die gebruik van die term “vandalisme” om enige vorm van sinnelose vernietiging te beskryf, veral die “barbaarse” verminking van kunswerke. Sommige moderne historici het egter die rol van die Vandale beklemtoon as voortsetters van aspekte van die Romeinse kultuur gedurende die oorgangstydperk van die Laat Oudheid na die vroeë Middeleeue.[4]
Naam

Die naam word deur Saxo as Wandali en Wendilenses aangegee, in Oud-Noors as Vendill en in Oud-Engels as Wend(e)las. Dit gaan alles terug na die Proto-Germaanse vorm *Wanđilaz.[5][6] Die etimologie van die naam is onduidelik.
Geskiedenis
Oorsprong

Vroeë klassieke bronne
Die eerste keer dat die Vandale sover bekend genoem word, is deur Plinius die ouere, wat die term Vandili in 'n breë sin gebruik vir een van die groot groepe Germaanse volke. Hy noem verskeie stamme in dié groep.[7]
Tacitus noem die Vandilii, maar net in 'n paragraaf oor die legendes van die Germaanse volke se oorsprong. Hy noem dan hulle word soms beskou as een van die oudste groepe van dié volke. Hy sê egter nie waar hulle woon of watter volke in dié kategorie val nie. Aan die ander kant gee Tacitus en Ptolemeus inligting oor die Varini, Boergondiërs en Gutone in dié tydperk, en dit dui daarop dat die Vandale in dié tyd tussen die riviere Oder en Vistula gewoon het.[8]
Die Lugiërs, wat in vroeë klassieke geskrifte van dieselfde streek genoem word, was moontlik dieselfde volk as die Vandale.[9][10] Die Lugiërs word deur Strabo, Tacitus en Ptolemeus beskryf as 'n groot groep stamme tussen die Vistula en die Oder. Strabo en Ptolemeus noem glad nie die Vandale nie, net die Lugiërs. Plinius noem weer net die Vandale en nie die Lugiërs nie.[8] Walter Pohl en Walter Goffart het opgemerk Ptolemeus onderskei waarskynlik tussen die Silingers en die Lugiërs. In die 2de eeu word ook 'n onderskeid getref tussen die Lugiërs en die Hasdingers.[11]
Taal
Baie min is van die taal Vandaals bekend, maar daar word vermoed dit is van die uitgestorwe Oos-Germaanse tak, nes Goties. Die Gote het die enigste tekste van Oos-Germaans nagelaat, veral 'n 4de-eeuse vertaling van die Evangelies.[12]
In die Romeinse Ryk
In die 2de eeu het twee of drie aparte Vandaalse groepe onder die aandag van die Romeinse owerhede gekom: die Silingers, die Hasdingers en moontlik die Lakringers, wat saam met die Hasdingers voorgekom het. Net die Silingers is vroeër in Romeinse werke genoem, en hulle word verbind met Silesië.
Twee volke het aan die Markomanniese Oorloë deelgeneem, wat gelei het tot wydverspreide verwoesting en die eerste inval in Italië in die Romeinse tydperk.[13] Tydens die Markomanniese Oorloë (166-'80) het die Hasdingers (of Astinge) onder konings Raus en Rapt (of Rhaus en Raptus) suid beweeg en Dacia as bondgenote van Rome binnegegaan.[14] Hulle het egter uiteindelik probleme in Dacia veroorsaak en verder suid beweeg, na die laer Donaugebied. Saam met die Hasdingers was die Lakringers, wat moontlik ook Vandale was.[15][16]
Omstreeks 271 moes die Romeinse keiser, Aurelianus, noodgedwonge die middel van die Donau teen Vandale beskerm. Hulle het vrede gesluit en aan die oostelike oewer van die rivier gebly.[14]
In 278 het die historikus Zosimus berig keiser Probus het die Vandale en Boergondiërs naby 'n rivier (vermoedelik die Lech) verslaan en baie van hulle na Groot-Brittanje gestuur. In dieselfde tyd is berig oor twee aparte konflikte buite die ryk waarin Boergondiërs verbind is met Alemanne en ander Vandale, moontlik Hasdingers in die Karpatiese streek.
Volgens die historikus Jordanes het die Hasdingers omtrent in die tyd van Konstantyn die Grote slaags geraak met die Gote. Die Vandale het toe gewoon in die gebied wat later deur die Gepiede bewoon is, waar hulle "in die ooste deur die Gote, in die weste deur die Markomanne, in die noorde deur die Hermandoere en in die suide deur die Hister (Donau) omring is". Die Vandale is deur die Gotiese koning Geberik aangeval en hulle koning, Wisimar, is gedood.[17] Die Vandale het toe na die naburige Pannonia migreer, waar hulle vir die volgende 60 jaar gewoon het nadat Konstantyn die Grote omstreeks 330 grond aan die regteroewer van die Donau aan hulle gegee het.[17][18]
Vandale het die Romeinse provinsie Raetia in die winter van 401/402 aangeval. Die historikus Peter Heather lei af die Vandale het in dié tyd in die streek om die Middel- en Bo-Donau gewoon.[19]
Hoewel die Hasdingers reeds eeue lank aan die Middel-Donau gewoon het, is dit minder duidelik waar die Silingers gevestig was;[20] dit kon in Silesië gewees het.[21][22][23]
In Gallië
In 405 het die Vandale uit Pannonia opgeruk en weswaarts langs die Donau gereis sonder veel teenstand, maar toe hulle die Ryn bereik, het hulle weerstand gekry van die Franke, wat geromaniseerde streke in Noord-Gallië bewoon en beheer het. Volgens 'n dokumentfragment het ongeveer 20 000 Vandale, insluitende koning Godigisel self, in dié Vandaals-Frankiese oorlog gesterf.
Met die hulp van die Alane het hulle egter daarin geslaag om die Franke te verslaan, en op 31 Desember 405[24] het die Vandale die Ryn oorgesteek, waarskynlik terwyl dit gevries was, om Gallië binne te val, wat hulle heeltemal verwoes het. Onder Godigisel se seun Gunderik het die Vandale plunderend wes- en suidwaarts deur Akwitanië beweeg.[25]
In Hispania

Op 13 Oktober 409 het hulle die Pireneë oorgesteek na die Iberiese Skiereiland. Daar het die Hasdingers grond van die Romeine ontvang in Asturië (noordwes) en die Silingers in Hispania Baetica (suid), terwyl die Alane grond in Lusitania (wes) en die streek rondom Carthago Nova gekry het.[26]
Die Wes-Gote, wat Iberië op bevel van die Romeine binnegeval het voordat hulle grond in Septimanië (Suid-Frankryk) ontvang het, het die Silingers in 417 en die Alane in 418 verpletter en die Wes-Alaanse koning Attaces gedood.[27] Die oorblyfsel van sy volk en die oorblywende Silingers, wat byna uitgewis is, het daarna ’n beroep op die Vandaalse koning Gunderik gedoen om die Alaanse kroon te aanvaar. Latere Vandaalse konings in Noord-Afrika het hulleself genoem Rex Wandalorum et Alanorum (“Koning van die Vandale en Alane”). In 419 is die Hasdingers deur ’n Romeinse koalisie verslaan. Gunderik het na Baetica gevlug, waar hy ook tot koning van die Silingers uitgeroep is. In 422 het Gunderik ’n Romeinse koalisie beslissend verslaan.[28][29] Dit is waarskynlik dat baie Romeinse en Gotiese troepe ná die geveg na Gunderik oorgeloop het.[29] Volgens die skrywer Hydatius het Gunderik in die volgende vyf jaar wydverspreide verwoesting in die westelike Middellandse See gesaai.[29] In 425 het die Vandale die Baleariese Eilande, Hispania en Mauretania geplunder, asook Cartagena en Sevilla.[29] Die inname van die kusstad Cartagena het die Vandale in staat gestel om grootskaalse vlootaktiwiteite te ontplooi.[29] In 428 het Gunderik Sevilla vir ’n tweede keer ingeneem, maar gesterf terwyl hy die stad se kerk beleër het.[29] Hy is opgevolg deur sy halfbroer Geiserik wat, hoewel hy buite-egtelik was (sy moeder was ’n slaaf), ’n prominente posisie aan die Vandaalse hof beklee en die troon sonder teenstand bestyg het.[30]
Geiserik word dikwels deur historici beskou as die bekwaamste barbaarse leier van die Migrasietydperk.[31] Die Amerikaanse historikus Michael Frassetto skryf hy het waarskynlik meer tot die vernietiging van Rome bygedra as enige van sy tydgenote.[31] Hoewel die barbare Hispania beheer het, het hulle steeds ’n baie klein minderheid uitgemaak binne ’n veel groter Hispaans-Romeinse bevolking – ongeveer 200 000 uit 6 000 000.[26]
Ryk in Noord-Afrika
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Vandaalse Ryk.
Stigting


Die Vandale onder Geiserik (ook bekend as Genserik) het in 429 na Afrika gekom.[33] Alhoewel getalle onbekend is, raam Peter Heather op grond van Prokopius se bewering dat die Vandale en Alane in dié tyd 80 000 getel het, dat hulle ’n leër van ongeveer 15 000 tot 20 000 kon ontplooi.[34][35]
Volgens Prokopios het die Vandale op versoek van Bonifatius, die Romeinse militêre heerser van die streek, na Afrika gekom.[36] Bonifatius het probeer om homself as ’n onafhanklike heerser in Afrika te vestig, of selfs Romeinse keiser te word, en het verskeie Romeinse pogings om hom te onderwerp verslaan, totdat hy oorweldig is deur die nuut aangestelde Gotiese graaf van Afrika, Sigisvult.[31] Dit is moontlik dat Bonifatius Geiserik as bondgenoot teen Sigisvult gesoek het en hom in ruil daarvoor ’n deel van Afrika belowe het.[31]
Terwyl hulle ooswaarts langs die kus opgeruk het, is die Vandale in Mei tot Junie 430 by die Numidiese grens deur Bonifatius gekonfronteer. Onderhandelinge het misluk en Bonifatius is beslissend verslaan.[37][38] Bonifatius het hom daarna in Hippo Regius verskans, met die Vandale wat die stad beleër het.[33] In die stad het sint Augustinus en sy priesters om genade gebid, want hy het geweet die inname van die stad sou die gedwonge bekering of die dood van baie Romeinse Christene beteken.
Op 28 Augustus 430, drie maande nadat die beleg begin het, het sint Augustinus (op 75) gesterf,[39] moontlik weens hongersnood of spanning, aangesien die koringlande buite die stad onbewerk gebly het. Augustinus se dood het die regentes van die Wes-Romeinse Ryk, Galla Placidia, geskok; sy het die gevolge gevrees indien haar ryk sy belangrikste graanbron sou verloor.[38] Sy het ’n nuwe leër in Italië op die been gebring en haar nefie in Konstantinopel, die Oos-Romeinse keiser Theodosius II, oorreed om ’n leër na Noord-Afrika te stuur onder leiding van Flavius Aspar.[38]
Omstreeks Julie of Augustus 431 het Geiserik die beleg van Hippo Regius opgehef[37] en dit het Bonifatius in staat gestel om van Hippo Regius na Kartago terug te trek, waar hy by Aspar se leër aangesluit het. In die somer van 432 het Geiserik die gesamentlike magte van Bonifatius en Aspar beslissend verslaan, wat hom in staat gestel het om Hippo Regius sonder teenstand in te neem.[38] Geiserik en Aspar het daarna oor ’n soort vredesverdrag onderhandel.[37] Nadat hy Hippo Regius ingeneem het, het Geiserik dit die eerste hoofstad van die Vandaalse Ryk gemaak.
Die Romeine en die Vandale het in 435 ’n verdrag gesluit wat die Vandale beheer oor Mauretanië en die westelike helfte van Numidië verleen het. Geiserik het egter die verdrag in 439 verbreek toe hy die provinsie Africa Proconsularis binneval en Kartago op 19 Oktober 439 inneem.[40] Die stad is sonder geveg ingeneem; die Vandale het die stad binnegegaan terwyl die meeste inwoners die wedrenne by die hippodroom bygewoon het. Geiserik het dit sy hoofstad gemaak en homself die koning van die Vandale en Alane genoem om die insluiting van die Alane van Noord-Afrika in sy bondgenootskap aan te dui. Sy magte het ook Sardinië, Korsika en die Baleariese Eilande beset. Sy beleg van Palermo in 440 het misluk, net soos die tweede poging om Sisilië in 442 binne te val.[41] Die historikus Cameron stel voor dat die nuwe Vandaalse bewind moontlik nie onwelkom was onder die bevolking van Noord-Afrika nie, aangesien die groot grondeienaars oor die algemeen ongewild was.[42]
Die indruk wat antieke bronne soos Victor van Vita, Quodvultdeus en Fulgentius van Ruspe gee, is dat die Vandaalse oorname van Kartago en Noord-Afrika tot wydverspreide verwoesting gelei het. Onlangse argeologiese ondersoeke het hierdie bewering egter bevraagteken. Hoewel Kartago se Odeon vernietig is, het die straatpatroon onveranderd gebly en is sommige openbare geboue opgeknap. Nuwe nywerheidsentrums het in dié tydperk op dorpe ontstaan.[43]
Toe die Vandale Sisilië in 440 plunder, was die Wes-Romeinse Ryk te besig met oorlog in Gallië om te reageer. Theodosius II, keiser van die Oos-Romeinse Ryk, het in 441 ’n ekspedisie gestuur om die Vandale te pak; dit het egter slegs tot Sisilië gevorder. Die Wes-Romeinse Ryk onder Valentinianus III het in 442 vrede met die Vandale gesluit.[44] Kragtens die verdrag het die Vandale Byzacena, Tripolitanië en die oostelike helfte van Numidië gekry, en is hulle beheer oor Africa Proconsularis bevestig,[45] terwyl die Vandaalse Ryk die eerste barbaarse land was wat amptelik as ’n onafhanklike ryk in voormalige Romeinse gebied erken is.[46] Die ryk het Wes-Numidië en die twee Mauretaniese provinsies tot 455 behou.
Plundering van Rome

Gedurende die volgende 35 jaar het Geiserik die kuslyne van die Oos- en Wes-Romeinse Ryk met ’n groot vloot geplunder. Vandaalse aktiwiteit in die Middellandse See was so omvangryk dat die see se naam in Oudengels Wendelsæ was (dus "Vandaalse See").[47]
Ná die dood van Attila die Hun kon die Romeine egter weer aandag aan die Vandale skenk wat beheer oor van die rykste lande van hulle voormalige ryk gehad het.
In ’n poging om die Vandale binne die raamwerk van die Romeinse Ryk te bring, het Valentinianus III sy dogter se hand in die huwelik aan Geiserik se seun aangebied. Voordat hierdie verdrag egter uitgevoer kon word, het politiek weer ’n deurslaggewende rol in Rome se misstappe gespeel. Petronius Maximus het Valentinianus III vermoor en die Westerse troon opgeëis. Petronius het toe Valentinianus III se weduwee, keiserin Licinia Eudoxia, gedwing om met hom te trou.[48]
Diplomasie tussen die twee faksies het verbrokkel, en in 455, ná ’n brief van Licinia Eudoxia wat Geiserik se seun smeek om haar te red, het die Vandale Rome ingeneem. Hulle het met ontelbare waardevolle besittings vertrek. Eudoxia en haar dogter Eudocia is na Noord-Afrika weggevoer.[45]
Konsolidasie

Weens die Vandaalse plundering van Rome en seerowery in die Middellandse See, het dit vir die Romeinse Ryk belangrik geword om die Vandaalse Ryk te vernietig. In 460 het keiser Majorianus ’n ekspedisie teen die Vandale geloods, maar hy is verslaan. In 468 het die Wes- en Oos-Romeinse Ryk ’n enorme ekspedisie onder bevel van Basiliskus teen die Vandale van stapel gestuur. Dit het na berig word uit 100 000 soldate en 1 000 skepe bestaan. Die Vandale het die indringers by die Slag van Kaap Bon verslaan, die westelike vloot buitgemaak en die oostelike vloot vernietig deur die gebruik van vuurskepe.[44] Ná die aanval het die Vandale probeer om die Peloponnesos binne te val, maar hulle is met swaar verliese deur die Maniote van die Griekse Maniskiereiland teruggedryf.[49] As vergelding het die Vandale 500 gyselaars op die Griekse eiland Zakynthos geneem, hulle in stukke gekap en die stukke oorboord gegooi op pad na Kartago.[49] In 469 het die Vandale beheer oor Sisilië verkry, maar hulle is in 477 deur Odoaker gedwing om dit prys te gee, buiten die westelike hawe Lilybaeum (wat hulle in 491 verloor het ná ’n mislukte poging om die eiland te herower).[50]
In die 470’s het die Romeine hulle beleid van oorlog teen die Vandale laat vaar. Die Wes-Romeinse generaal Ricimer het ’n verdrag met hulle gesluit,[44] en in 476 kon Geiserik ’n “ewigdurende vrede” met Konstantinopel beklink. Betrekkinge tussen die twee state het ’n skyn van normaliteit aangeneem.[51] Van 477 af het die Vandale hulle eie muntstukke geslaan, beperk tot brons- en silwermunte met 'n lae denominasie. Ander keiserlike muntstukke is behou.[52]
Hoewel die Vandale aanvalle van die Romeine afgeweer en hegemonie oor die eilande van die westelike Middellandse See gevestig het, was hulle minder suksesvol in hulle konflik met die Berbers. Dié was suid van die Vandaalse Ryk geleë, en het die Vandale in die tydperk 496-530 twee groot nederlae toegedien.[44]
Verval
Volgens die Catholic Encyclopedia van 1913 is Geiserik op 25 Januarie 477 op die ouderdom van sowat 88 jaar oorlede.[53] "Volgens die opvolgingswet wat hy self gepromulgeer het, moes die oudste lid van die koningshuis hom opvolg. Hy is dus deur sy seun, Hunerik, (477-'84) opgevolg. Dié het die Katolieke aanvanklik geduld vanweë sy vrees vir Konstantinopel, maar ná 482 het hy die Manicheërs en Katolieke begin vervolg."[53]
Gunthamund (484-'96), sy neef en opvolger, het binnelandse vrede met die Katolieke nagestreef en opgehou om hulle te vervolg. In die buiteland het die Vandale se mag afgeneem ná Geiserik se dood, en Gunthamund het vroeg in sy bewind sy hele grondgebied verloor buiten 'n klein deel van Wes-Sisilië tot by die Ostrogote, wat in 491 verloor is. Hy moes ook al hoe meer druk van die inheemse More verduur.
Volgens die Catholic Encyclopedia van 1913 was Thrasamund (496-523) 'n godsdienstige fanatikus en het hy die Katolieke weer kwaai vervolg.[53]
Stormagtige einde

Hilderik (523-'30) was die Vandaalse koning wat die verdraagsaamste teenoor die Katolieke Kerk was. Hy het godsdiensvryheid toegestaan; gevolglik is Katolieke sinodes weer eens in Noord-Afrika gehou. Hy het egter min in oorlogvoering belanggestel en dit aan ’n familielid, Hoamer, oorgelaat. Toe Hoamer ’n nederlaag teen die More ly, het die Ariaanse faksie binne die koninklike familie ’n opstand gelei en die vaandel van nasionale Arianisme gehef, en sy neef Gelimer (530-'34) het koning geword. Hilderik, Hoamer en hulle familielede is in die tronk gegooi.[54]
Die Bisantynse keiser Justinianus I het oorlog verklaar met die doel om Hilderik op die Vandaalse troon te herstel. Die afgesette Hilderik is egter in 533 op Gelimer se bevel vermoor.[54] Terwyl ’n Bisantynse ekspedisie onderweg was, is ’n groot deel van die Vandaalse leër en vloot deur Tzazo, Gelimer se broer, na Sardinië gelei om ’n opstand te onderdruk. Gevolglik kon die Bisantynse leërs onder bevel van Belisarius ongehinderd ongeveer 16 km van Kartago af land. Gelimer het vinnig ’n leër bymekaargeroep[55] en Belisarius by Ad Decimum ontmoet; die Vandale was aan die wen totdat Gelimer se broer Ammatas en sy nefie Gibamund in die geveg gesneuwel het. Gelimer het toe moed verloor en gevlug. Belisarius het Kartago vinnig ingeneem terwyl die oorlewende Vandale aanhou veg het.[56]
Op 15 Desember 533 het Gelimer en Belisarius weer slaags geraak by Tricamarum, ongeveer 32 km van Kartago af. Weer eens het die Vandale goed geveg, totdat Gelimer se broer Tzazo in die geveg gesneuwel het. Belisarius het vinnig na Hippo, die tweede stad van die Vandaalse Ryk, opgeruk en in 534 het Gelimer aan die Bisantynse oorwinnaar oorgegee. Dit het die einde van die Vandaalse Ryk beteken.
Noord-Afrika, in die Vandaalse tydperk bestaande uit Noord-Tunisië en Oos-Algerië, het weer ’n Romeinse provinsie geword en die Vandale is daaruit verban. Baie het na Noord-Algerië gegaan, waar hulle met die Berbers geïntegreer het, of het na ander lande gemigreer. Volgens die historikus Roger Collins het die Vandale as ’n afsonderlike etniese eenheid verdwyn.[55]
Lys van konings
"Vandalisme"
Die moderne term "vandalisme" kom van die Vandale se reputasie as die barbaarse volk wat Rome in 455 geplunder het. Die Vandale was waarskynlik nie vernietigender as enige ander invallers van die antieke tyd nie, maar skrywers wat Rome geïdealiseer het, het hulle dikwels blameer vir die stad se verwoesting.
Die term "vandalisme" is in 1794 deur die biskop van Blois geskep om die vernietiging van kunswerke ná die Franse Rewolusie te beskryf. Die term het gou deur Europa versprei. Dié nuwe betekenis van die term was belangrik in die waarneming van die Vandale van die Laat Oudheid en het die reeds bestaande idee versterk dat hulle 'n vernielsugtige barbaarse groep was. Vandale en ander "barbaarse" groepe is lank deur skrywers en historici kwalik geneem vir die val van die Romeinse Ryk.[57]
Verwysings
- ↑ "Théâtre de tous les peuples et nations de la terre avec leurs habits et ornemens divers, tant anciens que modernes, diligemment depeints au naturel par Luc Dheere peintre et sculpteur Gantois[manuscript]". lib.ugent.be. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Oktober 2020. Besoek op 25 Augustus 2020.
- ↑ Brian, Adam. "History of the Vandals". Illustrated History of the Roman Empire. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2017. Besoek op 21 Mei 2017.
- ↑ Heather 2005, p. 379
- ↑ Frank M. Clover en R.S. Humphreys (reds.), Tradition and Innovation in Late Antiquity (University of Wisconsin Press) 1989}}
- ↑ de Vries 1977, pp. 653–654.
- ↑ Orel 2003, p. 446.
- ↑ "Natural History 4.28". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Mei 2013. Besoek op 14 Januarie 2014.
- 1 2 Berndt 2010, p. 549.
- ↑ Anderson 2001, p. 198
- ↑ Wolfram 1997, p. 42
- ↑ Pohl, Die Germanen, p. 23; Goffart, Barbarian Tides, p. 298, footnote 47.
- ↑ Mallory & Adams 1997, pp. 217, 301
- ↑ {{cite web|url=http://global.britannica.com/EBchecked/topic/231186/Germany/58075/The-press%7Ctitle=Germany: Ancient History|website=Encyclopædia Britannica aanlyn|publisher=Encyclopædia Britannica, Inc.|access-date=January 16, 2015|archive-url=https://web.archive.org/web/20130828160433/http://global.britannica.com/EBchecked/topic/231186/Germany/58075/The-press%7Carchive-date=2013-08-28%7Curl-status=live
- 1 2 {{harvnb|Merrills|Miles|2010|p=30
- ↑ Dio Cassius, 72.12 {{Webarchive|url=https://web.archive.org/web/20210221024915/https://penelope.uchicago.edu/Thayer/E/Roman/Texts/Cassius_Dio/72%2A.html |date=2021-02-21
- ↑ {{harvnb|Merrills|Miles|2010|p=27
- 1 2 {{harvnb|Schütte|2013|pp=50–54
- ↑ Jordanes chapter 22 {{Webarchive|url=https://web.archive.org/web/20131105120230/http://www.romansonline.com/Src_Frame.asp?DocID=Gth_Goth_22 |date=2013-11-05
- ↑ {{harvnb|Heather|2005|p=195
- ↑ Goffart, Barbarian Tides, ch. 5.
- ↑ The Barbarians: Warriors & Wars of the Dark Ages, Tim Newark (Blandford Press, 1985).
- ↑ Andrew H. Merrills, "Vandals, Romans and Berbers: New Perspectives on Late Antique North Africa", 2004, Ashgate Publishing, {{ISBN|0-7546-4145-7 p. 34, (Google Books)
- ↑ Jerzy Strzelczyk, "Wandalowie i ich afrykańskie państwo" p. 59, Warszawa 1992.
- ↑ {{cite book |last1=Goffart |first1=Walter |title=Barbarian Tides: The Migration Age and the Later Roman Empire |date=2006 |publisher=University of Pennsylvania Press |location=Philadelphia |isbn=978-0-8122-3939-3 |pages=94–95
- ↑ {{EB1911|inline=1|wstitle=Vandals
- 1 2 {{cite encyclopedia |url=http://global.britannica.com/EBchecked/topic/557573/Spain/70357/Visigothic-Spain-to-c-500#ref587098 |title=Spain: Visigothic Spain to c. 500 |encyclopedia=Encyclopædia Britannica Online |publisher=Encyclopædia Britannica, Inc. |access-date=8 March 2014 |archive-date=9 March 2014 |archive-url=https://archive.today/20140309140028/http://global.britannica.com/EBchecked/topic/557573/Spain/70357/Visigothic-Spain-to-c-500%23ref587098#ref587098 |url-status=live
- ↑ Vasconcellos 1913, p. 551
- ↑ {{harvnb|Jaques|2007c|p=999
- 1 2 3 4 5 6 {{harvnb|Merrills|Miles|2010|p=50
- ↑ {{harvnb|Merrills|Miles|2010|pp=49–50
- 1 2 3 4 {{harvnb|Frassetto|2003|p=173
- ↑ "CNG Coins". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Augustus 2017. Besoek op 10 Augustus 2017.
- 1 2 Collins 2000, p. 124
- ↑ Prokopius, Oorloë 3.5.18–19 in Heather 2005, p. 512
- ↑ Heather 2005, pp. 197–198
- ↑ Prokopius, Oorloë 3.5.23–24 in Collins 2000, p. 124
- 1 2 3 Merrills & Miles 2010, pp. 53–55
- 1 2 3 4 Reynolds 2011, pp. 130–131
- ↑ "Newadvent.org". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2017. Besoek op 18 Mei 2009.
- ↑ Collins 2000, pp. 124–125
- ↑ J.B. Bury, History of the Later Roman Empire, Dover Vol. I. pp. 254, 258, 410}}
- ↑ Cameron 2000, pp. 553–554
- ↑ Merrills 2004, p. 10
- 1 2 3 4 Collins 2000, p. 125
- 1 2 Cameron 2000, p. 553
- ↑ Patout Burns, J.; Jensen, Robin M. (2014). Christianity in Roman Africa: The Development of Its Practices and Beliefs– Google Knihy. Wm. B. Eerdmans Publishing Company. ISBN 978-0-8028-6931-9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Desember 2016. Besoek op 25 Desember 2016.
- ↑ "Mediterranean"..
- ↑ Ralph W. Mathisen, Petronius Maximus (17 March – 22 May 455)
- 1 2 Greenhalgh & Eliopoulos 1985, p. 21
- ↑ J.B. Bury, History of the Later Roman Empire, 1958-uitgawe, pp. 254, 327, 410
- ↑ Bury 1923, p. 125
- ↑ Merrills 2004, pp. 11–12
- 1 2 3 Löffler, Klemens (1912). "Vandals". In Herbermann, Charles (red.). Catholic Encyclopedia. Vol. 15. New York: Robert Appleton Company
- 1 2 Bury 1923, p. 131
- 1 2 Collins 2000, p. 126
- ↑ Bury 1923, pp. 133–135
- ↑ Merrills & Miles 2010, pp. 9–10
Bibliografie
- Anderson, John (2001) [1938]. Germania. Bristol Classical Press. ISBN 978-1-85399-503-3. Besoek op 9 Maart 2014.
- Berndt, Guido M. (2010). "Hidden Tracks: On the Vandal's Paths to an African Kingdom". In Curta, Florin (red.). Neglected Barbarians. Studies in the Early Middle Ages. Vol. 32. pp. 537–569. doi:10.1484/M.SEM-EB.3.5097. ISBN 978-2-503-53125-0. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Maart 2023. Besoek op 27 Februarie 2026.
- Burke, Ulick Ralph (1900). A History of Spain from the Earliest Times to the Death of Ferdinand the Catholic. Vol. 1. Year Books. p. 410. ISBN 978-1-4437-4054-8. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2014. Besoek op 21 Augustus 2014.
- Bury, John Bagnell (1923). History of the Later Roman Empire, from the Death of Theodosius I to the Death of Justinian (A.D. 395 to A.D. 565). Vol. II. Macmillan.
- Cameron, Averil (2000). "The Vandal conquest and Vandal rule (A.D. 429–534)". The Cambridge Ancient History. Late Antiquity: Empire and Successors, A.D. 425–600. Vol. XIV. Cambridge University Press. pp. 553–559.
- Collins, Roger (2000). "Vandal Africa, 429–533". The Cambridge Ancient History. Late Antiquity: Empire and Successors, A.D. 425–600. Vol. XIV. Cambridge University Press. pp. 124–126.
- Conant, Jonathan (2004). "Literacy and Private Documentation in Vandal North Africa: The Case of the Albertini Tablets". Vandals, Romans and Berbers: New Perspectives on Late Antique North Africa. Ashgate Publishing. pp. 199–224. ISBN 978-0-7546-4145-2.
- de Vries, Jan (1977) [1962]. Altnordisches Etymologisches Worterbuch. Brill. ISBN 978-90-04-05436-3.
- Frassetto, Michael (2003). Encyclopedia of Barbarian Europe: Society in Transformation. ABC-CLIO. ISBN 978-1576072639. Besoek op 17 Januarie 2015.
- George, Judith (2004). "Vandal Poets in their Context". Vandals, Romans and Berbers: New Perspectives on Late Antique North Africa. Ashgate Publishing. pp. 133–144. ISBN 978-0-7546-4145-2.
- Greenhalgh, P. A. L.; Eliopoulos, Edward (1985), Deep into Mani: Journey to the Southern Tip of Greece, Faber and Faber, ISBN 978-0-571-13523-3, https://archive.org/details/deepintomanijour0000gree
- Jaques, Tony (2007a). Dictionary of Battles and Sieges: A–E. Greenwood Publishing Group. ISBN 978-0313335372. Besoek op 17 Januarie 2015.
- Jaques, Tony (2007b). Dictionary of Battles and Sieges: F–O. Greenwood Publishing Group. ISBN 978-0313335389. Besoek op 17 Januarie 2015.
- Jaques, Tony (2007c). Dictionary of Battles and Sieges: P–Z. Greenwood Publishing Group. ISBN 978-0313335396. Besoek op 15 Mei 2015.
- Heather, Peter (2005). The Fall of the Roman Empire: A New History. Macmillan. ISBN 978-0-333-98914-2.
- Mallory, James P.; Adams, Douglas Q., reds. (1997). Encyclopedia of Indo-European Culture. Taylor & Francis. ISBN 978-1-884964-98-5.
- Merrills, Andy (2004). "Vandals, Romans and Berbers: Understanding Late Antique North Africa". Vandals, Romans and Berbers: New Perspectives on Late Antique North Africa. Ashgate Publishing. ISBN 978-0-7546-4145-2.
- Merrills, Andy; Miles, Richard (2010). The Vandals. John Wiley & Sons. ISBN 978-1-4051-6068-1.
- Mokhtar, G (1981). Ancient Civilizations of Africa. Vol. 2. University of California Press. p. 281. ISBN 978-0-520-06697-7.
- Orel, Vladimir E. (2003). A Handbook of Germanic Etymology. Brill. ISBN 978-90-04-12875-0.
- Reynolds, Julian (2011). Defending Rome: The Masters of the Soldiers. Xlibris Corporation. ISBN 978-1477164600. Besoek op 17 Januarie 2015.[selfgepubliseerde bron]
- Schütte, Gudmund (2013). Our Forefathers, Volume 2. Cambridge University Press. ISBN 978-1-107-67723-4. Besoek op 9 Maart 2014.
- Todd, Malcolm (2009). The Early Germans. John Wiley & Sons. ISBN 978-1-4051-3756-0. Besoek op 9 Maart 2014.
- Vasconcellos, José Leite (1913). Religiões da Lusitania na parte que principalmente se refere a Portugal. Vol. 3. Imprensa Nacional.
- Waldman, Carl; Mason, Catherine (2006). Encyclopedia of European Peoples. Infobase Publishing. ISBN 978-1-4381-2918-1. Besoek op 5 Mei 2013.
- Wickham, Chris (2009). The Inheritance of Rome. Penguin Books. ISBN 978-0-670-02098-0.
- Wolfram, Herwig (1997). The Roman Empire and Its Germanic Peoples. University of California Press. ISBN 978-0520085114.
Nog leesstof
- Blume, Mary. "Vandals Exhibit Sacks Some Cultural Myths", International Herald Tribune, August 25, 2001.
- Christian Courtois: Les Vandales et l'Afrique. Parys 1955
- Die Vandalen: die Könige, die Eliten, die Krieger, die Handwerker. Publikation zur Ausstellung "Die Vandalen"; eine Ausstellung der Maria-Curie-Sklodowska-Universität Lublin und des Landesmuseums Zamość ... ; Ausstellung im Weserrenaissance-Schloss Bevern ... Nordstemmen 2003. ISBN 3-9805898-6-2
- F. Papencordt's Geschichte der vandalischen Herrschaft in Afrika
- Ivor J. Davidson, A Public Faith, Chapter 11, Christians and Barbarians, Volume 2 of Baker History of the Church, 2005, ISBN 0-8010-1275-9
- Ludwig Schmidt: Geschichte der Wandalen. 2. Auflage, München 1942.
- Victor van Vita, History of the Vandal Persecution ISBN 0-85323-127-3. 484
Skakels
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Vandale (volk).
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.