Hierdie artikel handel oor die Nieu-Seelandse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Nieu-Seelandse nasionale vrouekrieketspan.

Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan (Engels: New Zealand national cricket team), met die byname Black Caps (“swart pette”; Maori: Pōtae Pango) of Kiwis, is die nasionale krieketspan wat Nieu-Seeland in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Nieu-Seeland Krieket (NZC, van Engels: New Zealand Cricket) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Hulle het hul eerste toets in 1930 teen Engeland in Christchurch, Nieu-Seeland, gespeel en daarmee die wêreld se vyfde toetsland geword. Die span kon eers in die 1955/56-seisoen ’n toets wen, teen Wes-Indië op Edenpark in Auckland.[11] Hulle het hul eerste internasionale eendagwedstryd in die 1972/73-seisoen teen Pakistan in Christchurch gewen. Nieu-Seeland is tans (Maart 2026) vyfde op die IKR-toetsranglys, tweede op die eendagranglys en tweede op die Twintig20-wêreldranglys.[12][13][14]

Nieu-Seeland het tot dusver twee keer as medegasheer van ’n krieketwêreldbekertoernooi opgetree (in 1992 en 2015), in albei gevalle saam met Australië. Al is Nieu-Seeland telkens een van die gunstelingspanne om beide die krieketwêreldbeker en die T20I-wêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie. Hul beste prestasie tot dusver is die eindstryd, wat die Black Caps twee keer gehaal het (in 2015 en 2019), maar hulle is deur onderskeidelik Australië en Engeland in die eindstryd verslaan. Nieu-Seeland het Suid-Afrika in die halfeindstryd van die Krieketwêreldbeker 2015 verslaan, hul eerste oorwinning in ’n wêreldbekerhalfeindstryd en sodoende vir die eerste keer in ’n wêreldbekereindstryd verskyn, maar uiteindelik teen hul trans-Tasmanse teenstanders Australië verloor.[15] In die volgende krieketwêreldbekertoernooi in 2019 het Nieu-Seeland weer die eindstryd gehaal, maar naelskraap teen Engeland volgens aangetekende grenshoue verloor, nadat beide die wedstryd en die volgende superboulbeurt gelykop geëindig het.[16][17][18][19] Drie voormalige Nieu-Seelandse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.[20]

Nieu-Seeland het tydens die Kampioenetrofee 2000 (destyds die Uitkloptrofee genoem) sy eerste internasionale titel ingepalm. In 2021 het die Blacks Caps in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 Indië met agt paaltjies verslaan en sodoende hul tweede IKR-titel gewen. Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 het Nieu-Seeland vir die eerste keer die T20I-wêreldbekereindstryd gehaal, maar hulle is deur Australië met agt paaltjies verslaan. Nieu-Seeland se volgende eindstrydverskyning was tydens die Kampioenetrofee 2025, maar hulle is deur Indië met vier paaltjies geklop. Daarna het die Black Caps die T20I-wêreldbeker 2026-eindstryd gehaal, maar teen die verdedigende wêreldkampioen Indië vasgeval.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam van krieket in Nieu-Seeland, Nieu-Seeland Krieket (NZC, New Zealand Cricket), is op 27 Desember 1894 as die Nieu-Seeland Krieketraad gestig (NZCC, New Zealand Cricket Council) en is die toesighouer van die Nieu-Seelandse nasionale krieketspanne.[21] Sedert 31 Mei 1926 is Nieu-Seeland ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel.[22]

Nieu-Seeland Krieket bestuur al die Nieu-Seeland-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is Nieu-Seeland Krieket verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Nieu-Seelandse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Nieu-Seeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[23] Nieu-Seeland A is die tweede nasionale span van Nieu-Seeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.

Geskiedenis

Invoering en vestiging van krieket

Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Nieu-Seeland gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die krieketgeskiedenis in Nieu-Seeland begin in 1832 met die eerste bekende reël van ’n wedstryd deur die predikant Henry Williams in Northland.[24] In 1835 besoek Charles Darwin met sy HMS Beagle tydens sy beroemde omseiling van die aarde die Bay of Islands en Darwin sien, hoe bevryde Māori-slawe en die seun van ’n sendeling in Waimate North krieket speel. Darwin skryf in The Voyage of the Beagle soos volg:[25]

Verskeie jong mans wat deur die sendelinge uit slawerny verlos is, is op die plaas in diens geneem. In die aand het ek ’n partytjie van hulle sien krieket speel.

Die eerste bekende krieketwedstryd in Nieu-Seeland het in Desember 1842 in Wellington plaasgevind.[24] Die koerant Wellington Spectator berig oor ’n wedstryd op 28 Desember 1842 tussen ’n “rooi”- en ’n “blou”-span van die Wellington-klub. Die koerant Examiner in Nelson lewer die eerste bekende, volledige berig oor ’n wedstryd tussen die Surveyors en Nelson in Maart 1844.

Op 16 Maart 1860 is die eerste interprovinsiale wedstryd in Wellington gehou, toe Wellington ’n eendagwedstryd teen die span uit Auckland met vier paaltjies gewen het.[26][27][28] ’n Kort rukkie later is verdere wedstryde aangebied, wat almal een dag geduur en nie eersterangse status geniet het nie. Die eerste eersterangse wedstryd in Nieu-Seeland het op 27–29 Januarie 1864 tussen Otago en Canterbury op die Suid-Dunedin Ontspanningsveld plaasgevind. Dit het drie dae geduur en die boulbeurte het tydens die eerste beurt uit ses aflewerings elk en tydens die tweede beurt uit vier aflewerings elk bestaan. Canterbury het die loot gewen en gekies om eerste te kolf, maar Otago het dié wedstryd met 76 lopies gewen.[29] Hoewel dit die eerste eersterangse wedstryd in Nieu-Seeland was, het vyf van Otago se spelers reeds oor eersterangse ondervinding beskik, wat hulle by die interkoloniale krieket in die Australiese deelstaat Victoria verkry het. Nogtans was dit die 32-jaarige nuweling James Fulton wat die eerste 25 lopies aangeteken het. John Mace, ’n voormalige speler uit Victoria, en MacDonald, gebore in Victoria, het Canterbury aan die einde van die eerste dag op 34 lopies uitgeboul. Op die tweede dag het Otago se span vir 65.1 kolfbeurte gekolf en 74 lopies aangeteken, voordat Mace en MacDonald vier paaltjies elk geneem en Otago laat wen het.[30] Otago en Canterbury het van 1864 af jaarliks teen mekaar gespeel en hierdie wedstryd is van die 1911/12-seisoen af tydens die Plunket Shield beslis.

Die eerste wedstryd tussen Canterbury en Engeland op Hagleypark, Christchurch, in Februarie 1864

In 1863/64 het George Parr se “All England”-span, nadat hulle in Melbourne gespeel het, die eerste geword wat na Nieu-Seeland getoer en die Suideiland vir vyf wedstryde besoek het. Dié Engelse span het 22 wedstryde teen sterk spanne uit Otago en Canterbury gewen.[24] Tydens hul 1876/77-toer na Australië het James Lillywhite se span tussen Januarie en vroeg Maart 1877 Nieu-Seeland vir agt nieeersterangse wedstryde besoek. Hulle het ses gewen en in twee onbeslis gespeel. Hul daaropvolgende wedstryd ná hul terugkeer na Australië was die eerste toetswedstryd in die krieketgeskiedenis.[31] Tussen 1864 en 1914 het altesaam 22 buitelandse spanne na Nieu-Seeland getoer. Ses spanne was uit Engeland, 15 uit Australië en een uit Fidji.

Die eerste nasionale span

’n Krieketwedstryd tussen die plaaslike Otagospan en die besoekende Australië op Carisbrook in 1910
Sedert 1906 ding die Nieu-Seelandse eersterangse spanne om die Plunket Shield mee

Op 15–17 Februarie 1894 het die eerste Nieu-Seelandse verteenwoordigende span teen Nieu-Suid-Wallis op Lancasterpark in Christchurch gespeel. Nieu-Suid-Wallis het dié wedstryd met 160 lopies gewen.[32] Die Nieu-Seelandse Krieketraad (nou Nieu-Seeland Krieket, New Zealand Cricket, NZC), is op 27 Desember 1894 gestig.[21] Nieu-Suid-Wallis het in 1895/96 teruggekom en die gasheer het die eensame wedstryd met 142 lopies gewen, Nieu-Seeland se eerste oorwinning.[32]

Nieu-Seeland het sy eerste twee internasionale wedstryde (maar nie toetse nie) in 1904/05 teen ’n sterbesaaide Australiese span met spelers soos Victor Trumper, Warwick Armstrong en Clem Hill gespeel. Reën het Nieu-Seeland van ’n afranseling in die eerste wedstryd beskerm, maar nie in die tweede nie, wat Nieu-Seeland met ’n beurt en 358 lopies verloor het – tot op hede die tweede hoogste nederlaag in Nieu-Seeland se eersterangse geskiedenis.[33][34] Oor die daaropvolgende 50 jaar sou die wedersydse ontmoeting met Australië slegs op keurspanne uit die deelstate en die Australia XI beperk wees, omdat die Australiërs hul bure nie as sterk genoeg vir toetskrieket geag het nie.[32]

In 1906 is die Plunket Shield deur Lord Plunket geskenk.[24] Dit was Nieu-Seeland se eerste amptelike trofee in krieket en voorheen was dit veral die spanne uit Canterbury, Otago, Auckland, Wellington, Hawke’s Bay, Nelson (tot in 1891) en Taranaki (tot in 1898), wat gereeld wedstryde teen mekaar gereël het. Tot in 1920/21 is die Plunket Shield as ’n uitdagingstoernooi gespeel en sedertdien as ’n nasionale kampioenskap. Aan die begin is die Plunket Shield óf deur Canterbury óf deur Auckland gewen.

Tussenoorlogse tydperk

Roger Blunt, Tom Lowry, Curly Page en Stewie Dempster tydens die eerste Nieu-Seelandse 1931-toer na Engeland
Walter Hadlee en Jack Kerr tydens die Nieu-Seelandse 1937-toer na Engeland

Die Marylebone-krieketklub (MKK) was gretig om krieket in die hele Britse Ryk te bevorder en op 31 Mei 1926 het die Nieu-Seelandse beheerliggaam saam met sy Indiese en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die Marylebone-krieketklub (MKK) en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het.[35] Ná sy toetrede tot die IKK kon Nieu-Seeland nou amptelike toetswedstryde speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. In 1927 het Nieu-Seeland vir die eerste keer na Engeland getoer, maar hulle het nog nie toetswedstryde gespeel, omdat Nieu-Seeland nie as sterk genoeg geag is nie.[36] Hulle het 26 eersterangse wedstryde gespeel, meestal teen county-spanne. Nieu-Seeland het sewe wedstryde gewen, insluitende dié teen Worcestershire, Glamorgan, Somerset en Derbyshire.[36][37] Ná hierdie suksesvolle toer is Nieu-Seeland as sterk genoeg vir amptelike toetskrieket beskou.[24]

In 1929/30 het die MKK, wat die opsig oor al die amptelike Engelse oorsese toere gehad het, onder hul kaptein Harold Gilligan as Engelse verteenwoordiger na Nieu-Seeland getoer en vier toetse gespeel, almal het drie dae geduur. Gelyktydig het Freddie Calthorpe ’n ander Engelse span na Wes-Indië aangevoer, waarvolgens die Engelse span in Nieu-Seeland nie ’n volstoomspan was nie.[38] Nieu-Seeland het sy eerste toetswedstryd op Lancasterpark, Christchurch, met agt paaltjies verloor, maar hulle het in die volgende drie onbeslis gespeel.[39] In die tweede toets het Stewie Dempster en John Mills 276 lopies om die eerste paaltjie aangeteken. Dit is steeds die hoogste vennootskap vir Nieu-Seeland teen Engeland.[40] ’n Aansoek deur die Nieu-Seelandse Krieketraad vir ’n Australiese besoek van twee toetswedstryde vroeg in 1931 is deur die Australiese beheerliggaam van die hand gewys omrede die spelers van ’n uitputtende jaar met twee toetsreekse van vyf toetswedstryde elk moes herstel.[41] In 1931 het Nieu-Seeland sy eerste toetstoer na Engeland onderneem en drie toetwedstryde gespeel, dit was Nieu-Seeland se eerste amptelike toer in toetskrieket. Hulle het die toetsreeks egter met 0–1 verloor, nadat hulle in twee toetswedstryde onbeslis gespeel en Engeland die tweede toets met ’n beurt en 26 lopies gewen het.[42]

In 1931/32 het Nieu-Seeland vir die eerste keer in ’n twee-toetsreeks teen Suid-Afrika gespeel, maar hulle het die toetsreeks met 0–2 verloor, nadat Nieu-Seeland in die eerste toets met ’n beurt en twaalf lopies en in die tweede toets met agt paaltjies verslaan is.[43] Ná Engeland se berugte lyfkrieket-reeks in Australië, waar Engeland se aggressiewe boulwerk op die lyf met ’n veld aan die bykant baie kritiek ontlok en wat hulle met ’n reeksoorwinning beklink het,[44] het hulle onder hul kaptein Douglas Jardine verder na Nieu-Seeland getoer. Hierdie toetsreeks het egter heelwat minder opskudding veroorsaak en ná twee onbesliste toetse met 0–0 geëindig.[45] ’n Toer na Nieu-Seeland deur die beste Australiese spelers wat nie vir die 1934-toer na Engeland gekeur is nie, is vir die tydperk tussen Februarie en April 1934 gereël, maar dit is afgelas weens ’n misverstand tussen die beheerliggame oor finansiering en die ontrekking van ’n aantal spelers net voor die toer se begin.[46][47]

In 1937 het Nieu-Seeland se tweede besoek in Engeland gevolg, wat op ’n soortgelyke manier as die eerste verloop het, nadat hulle in twee onbesliste toetse gespeel en die tweede toets met 130 lopies verloor het.[48] Dit sou egter tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, wat die internasionale krieketbedryf vir sewe jare gekniehalter het, Nieu-Seeland se laaste toetsreeks wees en gedurende die vooroorlogse tydperk was Nieu-Seeland nie in staat om ’n wedstryd teen ’n ander span as Engeland te wen nie. ’n Toetstoer deur Australië, beplan vir Februarie en Maart 1940, waartydens drie toetswedstryde gespeel sou word, is ná die uitbreek van die oorlog afgelas. Vervolgens het die hoop, dat Donald Bradman ’n sterk Australiese span na Nieu-Seeland sou lei, nie vervul nie.[49][50][51]

Naoorlogse tydperk

Die twee Nieu-Seelandse krieketspelers Martin Donnelly en Merv Wallace in 1956
John R. Reid, ca. 1960

In 1945/46 het Nieu-Seeland sy eerste naoorlogse toets op Basin Reserve, Wellington, en sy eerste ooit teen Australië gespeel.[32] Dié wedstryd is destyds nie as ’n toets beskou nie, maar is in Maart 1948 deur die Internasionale Krieketkonferensie (IKK, die huidige Internasionale Krieketraad) terugwerkend as ’n toetswedstryd erken. Die Nieu-Seelandse spelers wat in hierdie wedstryd gespeel het, het die besluit deur die IKR nie verwelkom nie, omdat Nieu-Seeland sy beurte onderskeidelik met 42 en 54 lopies verloor het. Weens die Nieu-Seelandse Krieketraad se onwilligheid om Australiese spelers behoorlike toelae vir toere na Nieu-Seeland te betaal was dit die enigste toets tussen Australië en Nieu-Seeland in die tydperk van 1929 tot 1972.[32][52] Ná sy Australiese 1946/47-toer het Engeland Nieu-Seeland vir ’n bykomende toetswedstryd besoek, wat onbeslis geëindig het. Dit was die eerste toets waartydens ’n reserwedag weens reën gebruik moes word.[53]

In 1949 het Nieu-Seeland waarskynlik een van sy beste spanne nog na Engeland gestuur. Toetse van drie dae het egter daartoe gelei dat al vier toetse onbeslis geëindig het. Die 1949-toer na Engeland word as een van Nieu-Seeland se beste toerprestasies nog beskou. In al die vier toetse is hoë tellings aangeteken, ondanks die feit dat hulle onbeslis geëindig het en Martin Donnelly se 206 lopies op Lord’s word as een van die beste boulbeurte nog op dié krieketveld beskou en dit is die eerste Nieu-Seelandse tweehonderdtal teen Engeland.[36][54] Die feit dat al die vier toetse onbeslis geëindig het, het ook beteken dat Nieu-Seeland tydens die toer nie ’n toets verloor het nie. Voorheen het net die legendariese Australiese span onder hul ster Donald Bradman tydens die 1948-As-reeks daarin geslaag.[55] In 1950/51 het Engeland Nieu-Seeland vir twee toetswedstryde besoek (nadat hulle in Australië met 4–1 verslaan is), waarvan die eerste onbeslis geëindig en die besoekers die tweede met ses paaltjies gewen het.[56]

In 1951/52 het Nieu-Seeland sy eerste toetswedstryde teen Wes-Indië gespeel, maar hulle is in die eerste met vyf paaltjies verslaan, terwyl die tweede onbeslis geëindig het.[57] In 1952/53 het Suid-Afrika, nadat hul Australiese toer met 2–2 onbeslis geëindig het, Nieu-Seeland vir die eerste keer in 20 jaar weer besoek en die toetsreeks ná een onbesliste toets met 1–0 gewen.[58] Hul teenbesoek in Suid-Afrika 1953/54 (hul eerste in Suid-Afrika) het ná vyf toetswedstryde met 0–4 geëindig.[59]

In 1954/55 het Nieu-Seeland die laagste beurttelling nog aangeteken, 26 teen Engeland en ook die toetsreeks met 0–2 verloor.[24][60][61] In 1955/56 het Nieu-Seeland vir die eerste keer in Pakistan en in Indië gespeel, maar hulle het geen oorwinning aangeteken nie.[62] Gedurende dieselfde seisoen het Nieu-Seeland sy eerste toetsoorwinning in sy 45ste toetswedstryd, al was dit tuis, oor Wes-Indië met 190 lopies behaal.[24][63] Die toetsreeks was egter reeds verlore, nadat Wes-Indië die eerste drie toetswedstryde maklik gewen het.[64][65][66] Dit het 45 wedstryde en 26 jaar geneem voordat hulle dié mylpaal bereik het. Nieu-Seeland se 1958-toer na Engeland het met 0–4 geëindig.[67] Die Engelse teenbesoek in 1958/59 het vir Nieu-Seeland nie beter verloop nie, nadat hulle met 1–0 verslaan is.[68]

Gedurende die volgende 20 jaar het Nieu-Seeland slegs sewe verdere toetse gewen. Vir die grootste deel van hierdie tydperk het Nieu-Seeland nie ’n eersterangse bouler gehad wat hul aanvalle kon lei nie, hoewel hulle met Bert Sutcliffe en Glenn Turner oor twee uitstekende kolwers en met John R. Reid oor ’n goeie veelsydige speler beskik het. Tot in 1970 sou Nieu-Seeland slegs sewe oorwinnings in 95 wedstryde aanteken.[69] Reid het Nieu-Seeland tydens ’n toer na Suid-Afrika in 1961/62 aangevoer, waar die vyf-toetsreeks met 2–2 onbeslis geëindig het. Die oorwinnings in die derde en vyfde toets was die eerste oorsese oorwinnings waarin Nieu-Seeland geslaag het.[70] Reid het tydens dié toer 1 915 lopies aangeteken, en sodoende ’n nuwe rekord vir die meeste lopies deur ’n besoekende kolwer in Suid-Afrika aangeteken.[71][72] In 1962/63 het hulle weer al die drie toetswedstryde tuis teen Engeland verloor.[73]

Van die middel-1960’s af het Nieu-Seeland daarin geslaag, om die gevestigde toetslande in te haal en in drie opeenvolgende toetsreekse van drie toetse elk tuis onbeslis te speel: in 1963/64 teen Suid-Afrika,[74] in 1964/65 teen Pakistan[75] en in 1965/66 teen Engeland.[76] Gedurende dieselfde tydperk het Nieu-Seeland in Indië ook in drie onbesliste toetswedstryde gespeel, maar hulle het dié toetsreeks ná ’n nederlaag in die vierde toetswedstryd verloor.[77] Tydens die Indiese teenbesoek in 1967/68 het Nieu-Seeland gesukkel en die toetsreeks met 1–3 verloor. Indië het tydens die toer sy eerste oorsese oorwinning nog aangeteken.[78] In 1969/70 het Nieu-Seeland eindelik sy eerste toetsreeks tydens sy toer van drie wedstryde na Pakistan met 1–0 gewen.[79] Ná amper 40 jaar en 30 agtereenvolgende toetsreekse sonder ’n oorwinning was dit die eerste toetsreeks wat Nieu-Seeland gewen het.[80]

Die opkoms van EDI-krieket

Indrukke van die toets tussen Engeland en Nieu-Seeland op 10–15 Februarie 1978. Ná 48 probeerslae het Nieu-Seeland daarin geslaag om hul eerste toetsoorwinning oor Engeland aan te teken
Telbord – Basin Reserve in Februarie 1978. Nieu-Seeland se eerste oorwinning oor Engeland
Toetswedstryd tussen Indië en Nieu-Seeland op Basin Reserve in Wellington, 1981
Lance Cairns stap van die veld nadat sy paaltjie tydens die wedstryd teen Australië op Carisbrook gekantel het, 1982

Op 11 Februarie 1973 het Nieu-Seeland sy eerste EDI-wedstryd gespeel en Pakistan op Lancasterpark met 22 lopies verslaan.[24] Hulle het die toer se toetsreeks egter met 0–1 verloor, waardeur Pakistan met dieselfde uitslag wraak kon neem en ook sy eerste oorsese toetsreeks gewen het.[81] Die EDI-krieket het tot meer wedstryde teen Australië gelei en albei spanne ding mee om die Chappell-Hadlee-trofee wat na twee bekende krieketgesinne genoem is: die Australiese Chappells en die Nieu-Seelandse Hadlees. In Maart 1973 het Nieu-Seeland sy eerste toetsoorwinning oor Australië aangeteken, nadat hulle die tweede toets op Lancasterpark met vyf paaltjies gewen het.[32] Die toetsreeks het met 1–1 gelykop geëindig, nadat die eerste toetswedstryd onbeslis geëindig en Australië die derde toets met 297 lopies gewen het.[82]

In dieselfde jaar het Richard Hadlee debuteer en die tempo waarteen Nieu-Seeland toetse gewen het, het dramaties toegeneem. Hadlee was een van die beste snelboulers van sy generasie, en hy het in 86 toetse vir Nieu-Seeland verskyn, voordat hy in 1990 afgetree het. Van hierdie 86 toetse wat Hadlee vir Nieu-Seeland gespeel het, het hulle 22 gewen en 28 verloor. In 1977/78 het Nieu-Seeland sy eerste toets teen Engeland gewen, in die 48ste probeerslag, op Basin Reserve, Wellington, met 72 lopies.[36] Hadlee het tien paaltjies tydens dié wedstryd geneem.[83] Die toetsreeks het ná ’n Engelse oorwinning en ’n onbesliste toets met 1–1 gelykop geëindig.[84] In 1983 het Nieu-Seeland sy eerste wegoorwinning oor Engeland behaal, toe hulle op Headingley, Leeds, met vyf paaltjies geseëvier het. Hulle het die toetsreeks nogtans met 1–3 verloor.[36][85] In 1984 het Nieu-Seeland eindelik sy eerste toetsreeks tuis teen Engeland gewen, nadat hulle die tweede toets in Christchurch met ’n beurt en 132 lopies gewen en die ander twee toetswedstryde onbeslis geëindig het.[36][86] In 1986 het Nieu-Seeland sy eerste toetsreeks in Engeland gewen, nadat hulle die toets op Trent Bridge, Nottingham, met agt paaltjies gewen en die ander twee toetswedstryde onbeslis geëindig het.[36][87]

Een van Nieu-Seeland se waarskynlik destyds bekendste EDI-wedstryde is die “onderarm”-wedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld in 1981. Nieu-Seeland het ses lopies met die laaste aflewering benodig om die wedstryd gelykop te laat eindig, maar die Australiese kaptein Greg Chappell het vir sy broer Trevor opdrag gegee om die bal met sy onderarm langs die paaltjie te “boul” om te verhoed dat die Nieu-Seelandse kolwer Brian McKechnie ’n grenshou kon aanteken. Die betrokke Australiese skeidsregters het die skuif as wettig beskou, aangesien dit aan die destydse krieketwette voldoen het. Die nasleep van hierdie voorval het die politieke verhoudinge tussen Australië en Nieu-Seeland laat versuur, verskeie leidende politieke en krieketpersoonlikhede het die voorval as “onsportief” en “teen die gees van krieket” beskryf.[88] Toe Nieu-Seeland tydens die Driereeks in 1983 weer teen Australië gespeel het, is Lance Cairns vir sy EDI-kolfwerk geloof. In een wedstryd teen Australië op die Melbourne-krieketveld, een van die wêreld se grootste krieketvelde, het hy ses grenshoue aangeteken. Min aanhangers onthou dat Nieu-Seeland hierdie wedstryd met 149 lopies verloor het. Van Lance se grootste bydrae tot Nieu-Seelandse krieket is egter sy seun Chris Cairns.[32][89]

Gedurende die 1980’s het Nieu-Seeland ook oor sy beste kolwer nog, Martin Crowe, en ’n aantal goeie spelers beskik, wat almal in staat was om die een of ander wedstryd te wen en waardevolle bydrae in ’n toetswedstryd te lewer. Die beste voorbeeld van Nieu-Seeland se twee sterspelers (R. Hadlee en M. Crowe) wat ’n verskil in wedstryde gemaak en ander spelers wat goeie bydraes gelewer het, is Nieu-Seeland teen Australië in 1985 in Brisbane. In Australië se eerste beurt het Hadlee nege paaltjies vir 52 lopies geneem. In Nieu-Seeland se enigste draai by die kolf het M. Crowe 188 lopies en John F. Reid 108 lopies aangeteken. Edgar, Wright, Coney, Jeff Crowe, V. Brown en Hadlee het tussen 17 en 54* lopies aangeteken. In Australië se tweede beurt het Hadlee ses paaltjies vir 71 lopies en Chatfield drie paaltjies vir 75 lopies geneem. Nieu-Seeland het eindelik met ’n beurt en 41 lopies gewen.[90] Dit was Nieu-Seeland se eerste toetsoorwinning in Australië.[32] Nadat Australië die tweede toets in Sydney gewen het, het Nieu-Seeland die derde in Perth gewen en sodoende die toetsreeks met 2–1 beklink. Dit was Nieu-Seeland se eerste toetsreeksoorwinning in Australië.[32][91] Die daaropvolgende tuisreeks in 1985/86 teen Australië het Nieu-Seeland ná twee onbesliste toetswedstryde en ’n oorwinning in die derde toets met 1–0 gewen en sodoende sy eerste tuisreeksoorwinning oor Australië behaal.[32][92]

In vergelyking met toetskrieket het eendagkrieket aan Nieu-Seeland ook meer kans gegee om meer gereeld teen die beter spanne van die krieketwêreld mee te ding. In eendagkrieket hoef die kolwer nie honderdtalle aan te teken nie en die bouler hoef nie die teenstander uit te boul om wedstryde te wen nie. Eendagwedstryde kan gewen word deur een kolwer wat ’n vyftigtal en ’n paar ander wat 30’s aanteken, die boulers boul ekonomies en almal doen ’n goeie veldwerk. Dit is die vereistes waaraan Nieu-Seelandse spelers gereeld voldoen en sodoende ’n goeie EDI-rekord teen al die ander spanne ontwikkel het. Op die manier het Nieu-Seeland tydens die eerste twee krieketwêreldbekertoernooie (in 1975 en 1979) in Engeland die halfeindrondte gehaal. Tydens die volgende twee toernooie (in 1983 en 1987) was Nieu-Seeland egter minder suksesvol en hulle is reeds in die groepfase uitgeskakel.[93]

Chris Cairns het sy debuut een jaar voor Hadlee se aftrede in 1990 gemaak. Cairns, een van Nieu-Seeland se beste veelsydige spelers, het in die 1990’s die boulaanval met Danny Morrison aangevoer. Stephen Fleming, Nieu-Seeland se mees produktiewe lopiemaker, het beide die kolfwerk en die span na die 21ste eeu geneem. Nathan Astle en Craig McMillan het ook heelwat lopies vir Nieu-Seeland aangeteken, maar albei het vroeër afgetree as verwag is. Tydens die Krieketwêreldbeker 1992 het die medegasheer Nieu-Seeland weer beter gevaar en die halfeindrondte gehaal, waar hulle deur die latere kampioen Pakistan onder hul kaptein Imran Khan uitgeskakel is; Nieu-Seeland het egter teen al die ander deelnemende spanne gewen.[94] Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 in Indië, Pakistan en Sri Lanka is Nieu-Seeland effens vroeër – in die kwarteindstryd – deur Australië uitgeskakel[95] en tydens die Krieketwêreldbeker 1999 in Engeland was in die halfeindstryd weer Pakistan die laaste teenstander.[93][96]

Op 4 April 1996 het Nieu-Seeland ’n unieke wêreldrekord behaal, nadat die hele span vir hul spanprestasie as speler van die wedstryd aangewys is, nadat hulle Wes-Indië met vier lopies verslaan het. Dit is die eerste keer wat ’n hele span hierdie toekenning ontvang het.[97][98][99]

Daniel Vettori het in 1997 sy debuut op 18 jaar gemaak, en toe hy in 2007 by Fleming as kaptein oorgeneem het, is hy reeds as die beste veelsydige draaibouler in die krieketwêreld beskou. Op 26 Augustus 2009 het Daniel Vettori die agtste speler, en tweede linkerhandse bouler (na Chaminda Vaas) geword om 300 paaltjies te neem en 3 000 toetslopies aan te teken, en sodoende dié roemryke klub betree. Vettori het in 2011 besluit om ’n onbeperkte ruskans van krieket se internasionale kortvorme te neem, maar voortgegaan om Nieu-Seeland in toetskrieket te verteenwoordig en vir die Krieketwêreldbeker 2015 na EDI-krieket teruggekeer.[100]

Ná die millenniumwending

Toetswedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland op Lord’s in Mei 2004

Nieu-Seeland het die nuwe millennium met hul oorwinning tydens die Kampioenetrofee 2000 in Kenia begin en sodoende sy eerste IKR-toernooi gewen. Hulle het met ’n oorwinning van 64 lopies oor Zimbabwe begin, en toe Pakistan met vier paaltjies in die halfeindstryd verslaan. In die eindstryd teen Indië het Chris Cairns ’n onoorwonne 102 lopies in Nieu-Seeland se lopiejaag aangeteken en Nieu-Seeland sodoende die toernooi laat wen.[101] Shane Bond het tussen 2001 en 2007 in 17 toetse vir Nieu-Seeland gespeel, maar hy kon ná ’n besering nie verder speel nie. Wanneer hy fiks was, het hy aan die Nieu-Seelandse boulaanval ’n dimensie besorg wat sedert Hadlee se aftrede nie meer gesien is nie.[102]

Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika, Kenia en Zimbabwe het Nieu-Seeland slegs die Super 6 behaal, wat hoofsaaklik te wyte was aan die puntestelsel. Nadat Nieu-Seeland in die groepfase die wedstryd teen Kenia in Nairobi weens veiligheidskwessies verbeur het,[103] het die punte uit hierdie wedstryd in die volgende rondte ontbreek, omdat dit na die volgende rondte oorgedra is, en Nieu-Seeland is uit die toernooi geskakel.[93][104]

Rondom die beplande 2005-toer na Zimbabwe het weer bekommernisse ontstaan. As gevolg van die menseregtesituasie in Zimbabwe is druk op die Nieu-Seelandse span uitgeoefen om die toer nie aan te pak nie. Die spelers was ten gunste van die toer en hulle het die toer eindelik onderneem,[105] hoewel beide die ministerie van buitelandse sake en die parlement dié toer probeer keer het.[106][107] Tydens die eerste toets in Harare het Nieu-Seeland daarin geslaag om Zimbabwe twee keer op dieselfde dag op onderskeidelik 59 en 99 lopies uit te boul. Zimbabwe was slegs die tweede span wat dit teëgekom het, nadat Indië in 1952 in Manchester ook twee keer op dieselfde dag uitgeboul is. Die toetswedstryd is binne twee dae voltooi en Nieu-Seeland het met ’n beurt en 294 lopies gewen.[108]

Die opkoms van die finansiële sterk Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI) het ’n sterk impak op Nieu-Seelandse krieket en sy spelers gehad. Die BCCI het daarin geslaag om ander krieketrade te oortuig om nie spelers te kies wat by die mededingende Indiese T20-Krieketliga aangesluit het nie. Die Nieu-Seelandse krieket het vervolgens die dienste van Shane Bond, Lou Vincent, Andre Adams, Hamish Marshall en Daryl Tuffey verloor. Die geld, wat met T20-krieket in Indië verdien kan word, het dalk ook spelers soos Craig McMillan en Scott Styris (van toetskrieket) vroeër laat aftree as wat hulle dit andersins sou gedoen het. Ná die ondergang van die Indiese Krieketliga het beide Bond en Tuffey weer vir Nieu-Seeland gespeel. Tydens die EDI-reeks in 2006/07 in Nieu-Seeland het Australië van sy sleutelspelers vir die daaropvolgende krieketwêreldbekertoernooi laat rus, terwyl ander beseer was. Die gasheer het die EDI-reeks met 3–0 gewen.[32][109] Tydens beide die krieketwêreldbeker in Wes-Indië en die nuwe T20I-wêreldbeker in Suid-Afrika het Nieu-Seeland die halfeindrondte gehaal. Hoewel die Black Caps tydens die volgende vier T20I-wêreldbekertoernooie slegs die Super 8 of Super 10 gehaal het, het hulle tydens die Krieketwêreldbeker 2011 in Indië, Sri Lanka en Bangladesj weer die halfeindstryd gehaal.[110]

Vettori het in 2011 as toetskaptein bedank en hy is deur die sterkolwer Ross Taylor opgevolg. Taylor het Nieu-Seeland vir een jaar aangevoer, insluitende ’n naelbyter-oorwinning in ’n toetswedstryd met ’n lae telling teen Australië in Hobart, hul eerste oorwinning oor Australië sedert 1993.[111] In 2012 het Nieu-Seeland weer daarin geslaag om Zimbabwe twee keer op dieselfde dag op onderskeidelik 51 en 143 lopies uit te boul, waardeur die toetswedstryd binne drie dae voltooi is en Nieu-Seeland met ’n beurt en 301 lopies gewen het.[112] In 2012/13 is Brendon McCullum as kaptein benoem en nuwe spelers het as wêreldklasspelers opgekom. McCullum het Nieu-Seeland in reeksoorwinnings in 2013/14 oor beide Wes-Indië[113] en Indië[114] asook in 2014/15 oor beide Pakistan[115] en Sri Lanka[116] aangevoer, waarvolgens Nieu-Seeland in die ranglyste vir beide toets en EDI geklim het.[117] In die reeks teen Indië het McCullum in Wellington 302 lopies aangeteken en sodoende Nieu-Seeland se eerste drievoudige honderdtaller in toetskrieket geword.[118]

Herhaaldelike eindstrydverskynings

Eindstryd van die Krieketwêreldbeker 2015 tussen Australië en Nieu-Seeland op Melbourne-krieketveld
Die Nieu-Seelandse kaptein Kane Williamson tydens die wedstryd teen Afghanistan gedurende die Krieketwêreldbeker 2019
Toetswedstryd tussen Bangladesj en Nieu-Seeland op die Sylhet Internasionale Krieketstadion in November 2023

Vroeg in 2015 het die medegasheer Nieu-Seeland onoorwonne die eindstryd van die krieketwêreldbekertoernooi gehaal, maar hulle is deur die ander medegasheer Australië met sewe paaltjies verslaan.[119] In dieselfde jaar het die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan ter viering van die Māori-taalweek onder die naam Aotearoa in hul eerste wedstryd teen Zimbabwe gespeel.[120] In middel-2015 het Nieu-Seeland na Engeland getoer en goed presteer. Die toetsreeks het met 1–1 onbeslis geëindig, terwyl hulle die EDI-reeks met 2–3 verloor het.[121] Tussen Oktober tot November 2015, en weer in Februarie 2016, het Nieu-Seeland in twee toetsreekse teen Australië gespeel, met drie en twee wedstryde onderskeidelik. Met ’n Australiese span wat veranderinge ondergaan het, het Nieu-Seeland glo ’n kans gehad om te wen, veral tuis. Nieu-Seeland het albei reekse egter met 0–2 verloor.[122][123][124] Vir die derde toets in Adelaide het Australië en Nieu-Seeland ooreengekom om van dit die eerste dag/aandtoetswedstryd nog te maak.[125]

Tydens die Krieketwêreldbeker 2019 in Engeland en Wallis het Nieu-Seeland vir die tweede agtereenvolgende keer die eindstryd gehaal, nadat hulle in die halfeindstryd Indië met 18 lopies verslaan het.[126] Nieu-Seeland het teen die gasheer Engeland te staan gekom en sedert die Krieketwêreldbeker 1992 was dit die eerste keer wat twee spanne in die eindwedstryd ontmoet het wat nog nie ’n titel ingepalm het nie. Die eindstryd teen Engeland op Lord’s word as een van die beste en mees dramatiese krieketwedstryde nog beskryf, en sommige beskou dit as die “beste EDI in die krieketgeskiedenis”.[18] Beide die wedstryd en die nodige Superboulbeurt het in ’n gelykop geëindig en Engeland het die titel ingepalm nadat hulle meer grenshoue aangeteken het as Nieu-Seeland.[127][19][128] Die Nieu-Seelander Kane Williamson was die kaptein wat die meeste lopies (578) tydens een enkele krieketwêreldbekertoernooi aangeteken het.[129] Nieu-Seeland is ook die enigste span wat agt keer minstens die halfeindstryd gehaal het sonder om die titel in te palm.[130]

In Januarie 2021 het Nieu-Seeland vir die eerste keer die eerste plek op die IKR-toetsranglys behaal.[2] Eweneens het Nieu-Seeland in Mei dieselfde jaar vir die eerste keer die eerste plek op die EDI-ranglys beklee.[3] In Junie 2021 het Nieu-Seeland in die eindstryd van die eerste Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 teen Indië te staan gekom en hulle met agt paaltjies verslaan, waarmee die Black Caps hul tweede IKR-titel kon wen.[131] Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 se Super 12 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate is Nieu-Seeland deur Pakistan geklop, maar aansluitend het hulle herstel en Indië, Skotland, Namibië en Afghanistan verslaan. Vervolgens het die Nieu-Seelanders hul groep in die tweede plek afgesluit en die halfeindrondte gehaal, waar hulle Engeland met vyf paaltjies verslaan en vir die eerste keer die eindstryd gehaal het.[132] In die eindstryd is Nieu-Seeland deur Australië met agt paaltjies verslaan.[133] Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 se Super 12 in Australië het Nieu-Seeland in sy eerste wedstryd die gasheer met 89 lopies verslaan, nadat hulle hul opponent op 111 lopies uitgeboul het. Die daaropvolgende wedstryd teen Afghanistan is weens reën afgelas, waarna die Nieu-Seelanders Sri Lanka en Ierland geklop het, terwyl hulle deur Engeland verslaan is. Vervolgens het hulle hul groep met ’n goeie lopietempo in die eerste plek afgesluit en die halfeindrondte gehaal, waar hulle teen Pakistan met sewe paaltjies verloor het.[134] Die tweede Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 het Nieu-Seeland slegs in die sesde plek afgesluit.

Tydens die Krieketwêreldbeker 2023 in Indië het die Nieu-Seelanders Engeland, Nederland, Bangladesj, Afghanistan en Sri Lanka verslaan, maar hulle het ook nederlae gely teen Indië, Australië, Suid-Afrika en Pakistan. Daarmee het hulle, gelyk aan punte met Pakistan en Afghanistan, die halfeindrondte gehaal, maar hulle het teen Indië met 70 lopies verloor.[135] Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 het die Nieu-Seelanders hul wedstryde teen Afghanistan en Wes-Indië verloor, voordat hulle Uganda en Papoea-Nieu-Guinee kon klop, waardeur hulle reeds in die eerste rondte uit die toernooi geskakel is en vir die eerste keer sedert 2014 die halfeindrondte van ’n vername IKR-toernooi nie kon haal nie.[136] Tydens die Kampioenetrofee 2025 het die Nieu-Seelanders hul groep ná ’n nederlaag teen Indie tweede afgesluit, waarna hulle in die halfeindstryd met Suid-Afrika afgereken en in die eindstryd weer teen Indie te staan gekom het, maar dié keer met vier paaltjies vasgeval het.[137] Die derde Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025 het Nieu-Seeland in die vierde plek afgesluit. Die Black Caps het tydens die T20I-wêreldbeker 2026 in Indië en Sri Lanka die Super 8 gehaal en die halfeindstryd weens ’n beter lopietempo teenoor Pakistan s’n bereik, waar hulle Suid-Afrika met nege paaltjies geklop het. In die eindstryd het die Nieu-Seelanders egter teen die medegasheer en verdedigende wêreldkampioen Indië vasgeval.[138]

Kleure en byname

Tydperk Truiverskaffer Borg (bors) Borg (moue)
1980–1989 Adidas
1990 DB Draught
1991
1992 ISC
1993–1994 Bank of New Zealand
1995–1996 DB Draught
1997 Bank of New Zealand
1998 Canterbury TelstraClear
1999 Asics
2000 WStar TelstraClear
2001–2005 National Bank of New Zealand TelstraClear
2006–2008
2009 Dheeraj & East Coast
2010 Canterbury
2011–2014 Ford
2015–2016 ANZ
2017 ANZ
2018–2024
2024 Castore
Nieu-Seeland in hul helder toetsklere
Nieu-Seeland in hul donker EDI-klere

Nieu-Seeland se trui word verskaf deur Canterbury, wat in 2009 by die vorige vervaardiger WStar oorgeneem het. Wanneer hulle toetskrieket speel, toon Nieu-Seeland se wit krieketklere die silwervaring op die linkerkant van die trui, die naam en kenteken van die borg ANZ op die regterkant asook op die linkermou en die Canterbury-kenteken op die regtermou. Nieu-Seeland se veldwerkers mag ’n swart pet (soortgelyk aan ’n bofbalpet pleks van die baggypet wat deur ander spanne gebruik word) of ’n wit sonhoed met die Nieu-Seelandse Krieketkenteken in die middel dra. Helms is ook swart geverf (alhoewel dit tot in 1996 wit was met die silwervaring-logo in ’n swart sirkel).

In die korter vorme van krieket vertoon Nieu-Seeland se EDI- en T20I-truie die ANZ-kenteken in die middel met die silwervaring op die linkerkant van die trui, Canterbury se kenteken op die regtermou en die ANZ-embleem op die regterkant. Die EDI-trui bestaan uit ’n swart hemp met blou aksente en swart broeke, terwyl die T20I-trui uit ’n roomkleurige hemp met swart aksente en swart broeke bestaan. Tydens IKR-toernooie in die korter vorme van krieket word ’n veranderde trui-ontwerp gebruik met die borg se kenteken op die mou en NEW ZEALAND oor die bors.

Nieu-Seeland se EDI-trui tussen die Wêreldkrieketreeks in 1980 en 1988 was roomkleur en bruin. Die 1983/1984-weergawe is deur die Black Caps se ondersteunersgroep Beige Brigade gewild gemaak, wat die weergawe van hierdie trui aan die algemene publiek saam met ’n “morele kontrak”, wat die verwagtinge van die Beige Brigadier verklaar het, verkoop is; die trui is ook tydens die eerste T20I-wedstryd tussen Australië en Nieu-Seeland gedra. Tussen 1991 en 1997 is egter grys of silwer (met die een of ander spatsels van swart of wit) gebruik. Tot in 2000 was die EDI-trui geteël met swart aksente.

Vorige uitrusters was Adidas (Wêreldkrieketreekse 1980–1990), ISC (Krieketwêreldbekertoernooie in 1992 en 1996, Wêreldkrieketreekse 1993–1997), Canterbury (1998–1999), Asics (wat al die deelnemende spanne tydens die Krieketwêreldbeker in 1999 toegerus het) en WStar (2000–2009).

Vorige borge was DB Draught (in 1990–1994 op die voorkant, in 1995–1997 op die mou), Bank of New Zealand (in 1993–1994 en in 1997–1999 op die voorkant), Clear Communications, later TelstraClear (in 1997–2000 op die voorkant, in 2001–2005 op die mou), National Bank of New Zealand (in 2000–2014) en Dheeraj and East Coast (in 2009–2010),[139] sedert 2014 is ANZ die huidige borg, weens die herbemarking van die Nasionale Bank as ANZ. In Mei 2017 het Amul die nuwe borg vir die Kampioenetrofee geword.[140]

Die Nieu-Seelandse krieketspan het bekend geword as die Black Caps (“swart pette”) in Januarie 1998, nadat sy eertydse borg, Clear Communications, ’n kompetisie uitgeskryf het om ’n naam vir die span te kies.[141][142] Dit is een van talle byname vir Nieu-Seelandse nasionale spanne wat verband hou met die All Blacks. Die Maori-vertaling is Pōtae Pango.[143] ’n Ander bynaam vir die span is Kiwis (“kiwi’s”), die algemene bynaam vir Nieu-Seelanders, ontleen aan die gelyknamige voël, wat die nasionale simbool van Nieu-Seeland is.[144]

Tuisstadions

Huidige Nieu-Seelandse krieketstadions wat tydens toetswedstryde gebruik word

Net soos ander vername krieketlande soos Australië, Bangladesj, Engeland, Ierland, Indië, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe beskik Nieu-Seeland oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan gebruik vir hul krieketwedstryde eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Nieu-Seeland.

Van Nieu-Seeland se tradisionele krieketwedstryde op vakansiedae sluit in dié rondom Welwillendheidsdag op Basin Reserve in Wellington of op Hagleypark in Christchurch.

Die Nieu-Seelandse nasionale krieketspan het tot dusver nege tuisstadions tydens toetswedstryde gebruik:

No.StadionPlekEerste toets
1 Lancasterpark (Jadestadion, AMI-stadion) Christchurch 10 Januarie 1930
2 Basin Reserve (The Basin) Wellington 24 Januarie 1930
3 Edenpark Auckland 14 Februarie 1930
4 Carisbrook Dunedin 11 Maart 1955
5 McLeanpark Napier 16 Februarie 1979
6 Seddonpark Hamilton 22 Februarie 1991
7 Universiteit-ovaal Dunedin 4 Januarie 2008
8 Hagleypark Christchurch 26 Desember 2014
9 Bay-ovaal Mount Maunganui 21 November 2019

Krieketwêreldbekerstadions

EDI-wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland op Edenpark in Auckland in 2013

Die Krieketwêreldbeker 1992 is saam deur Australië en Nieu-Seeland aangebied. Van die wedstryde was soos volg opgedeel: Australië het 25 wedstryde op elf verskeie plekke gehuisves, terwyl Nieu-Seeland 14 wedstryde op sewe plekke aangebied het. Beide Australië en Nieu-Seeland het hul wedstryde tydens dié toernooi tuis gespeel, terwyl die openingswedstryd tussen albei gashere op die Nieu-Seelandse Edenpark in Auckland aangebied is. In ruil daarvoor is die eindstryd tussen Pakistan en Engeland op die Australiese Melbourne-krieketveld aangebied.

23 jaar later het beide Australië en Nieu-Seeland die Krieketwêreldbeker 2015 aangebied. Australië het 26 wedstryde op sewe verskeie plekke gehuisves, terwyl Nieu-Seeland 23 wedstryde op sewe plekke aangebied het. Albei gashere het hul wedstryde tuis gespeel, terwyl hul ontmoeting tydens die groepfase weer op die Nieu-Seelandse Edenparkstadion in Auckland gehou is. Tydens die eindwedstryd op die Australiese Melbourne-krieketveld het die gashere herontmoet.

Saam met Australië sal Nieu-Seeland die T20I-wêreldbeker 2028 aanbied.[145]