

’n Nabyaardevoorwerp (NAV), ook genoem 'n aardskrammer,[1] is enige voorwerp in die Sonnestelsel waarvan die wentelbaan naby aan dié van die Aarde kom. Per definisie is alle NAV's se kleinste afstand van die Son af (hulle perihelium) minder as 1,3 astronomiese eenhede (AE).[2] Dit sluit 37 000 asteroïede en meer as 120 kortperiodekomete in.
Daar word nou aanvaar botsings in die verlede het ’n groot rol gespeel in die vorming van die Aarde se geologiese en biologiese geskiedenis.[3] Asteroïede met 'n deursnee van net 20 m kan aansienlike skade aan die plaaslike omgewing en menslike bevolkings aanrig.[4] Groter asteroïede dring deur die atmosfeer en tref die Aarde, en veroorsaak slagkraters as hulle 'n kontinent tref of tsoenami's in die see.
NAV's het sedert die 1980's van toenemende belang geword vanweë ’n groter bewustheid van die moontlike gevaar wat sommige asteroïede en komete vir die Aarde inhou. In Januarie 2016 het Nasa bekendgemaak dat ’n liggaam, die Planetary Defense Coordination Office, gestig is om NAV's groter as 30 tot 50 meter in deursnee op te spoor en ’n doeltreffende beskermingsplan op te stel.[5]
NAV's het wentelbane van tussen 0,983 en 1,3 AE van die Son af.[6] Wanneer ’n NAV waargeneem word, word dit onder die aandag van die Internasionale Sterrekundige Vereniging se Kleinplaneetsentrum gebring om te katalogiseer. Sommige NAV's se wentelbane kruis die Aarde s’n en hou dus ’n gevaar in.[7]
| Komete | 0.8% | |||
| Atiras/Apohele | 0.1% | |||
| Atens | 7.2% | |||
| Apollo's | 53.5% | |||
| Amors | 38.4% | |||
| Subgroepe NAV's | ||||
’n Botsing met enige NAV met ’n deursnee van meer as ’n kilometer kan katastrofies wees. In Junie 2015 was daar 872 sulke NAV's bekend, waarvan 153 moontlike gevaar inhou.[8] In 2006 is geraam 20% van dié soort voorwerpe is nog nie ontdek nie.[9] ’n Meer positiewe raming is dat 93% van NAV's groter as 1 km gevind is en net sowat 70 nog ontdek moet word.[10] Mindere kennis bestaan oor kleiner voorwerpe, wat steeds grootskaalse skade kan aanrig.
Die bedreiging van potensieel gevaarlike voorwerpe (PGV's) word gemeet aan hoe naby hulle aan die Aarde kan kom.[11] Voorwerpe wat tot 0,05 AE of minder van die Aarde se wentelbaan kan kom en ’n absolute magnitude (H) van 22 of helderder het (’n rowwe aanduiding van die grootte) word as PGV's beskou. Voorwerpe wat nie nader as dit aan die Aarde kan kom nie of ’n kleiner deursnee as sowat 150 m het, word nie as gevaarlik beskou nie.[2] Nasa se katalogus van nabyaardevoorwerpe sluit ook hulle afstand in maanafstande in,[12] en dit word dikwels in die media gebruik as ’n algemene maateenheid wanneer oor dié voorwerpe berig word.
Sommige NAV's wat nie groot gevaar inhou nie is van besondere belang omdat hulle maklik verken kan word.[13][14] Teen Desember 2024 is vyf nabyaardekomete[15] en ses nabyaarde-asteroïede,[16][17][18] een van hulle met 'n maan,[18] al deur ruimtetuie besoek. Monsters van drie is na die Aarde teruggebring[19][20] en een suksesvolle wegkeringstoets is uitgevoer.[21] Soortgelyke sendings word voorberei. Voorlopige planne vir kommersiële asteroïedmynbou is al deur privaat maatskappye beraam, maar min is opgevolg.[22]
Definisies

Nabyaardevoorwerpe word formeel deur die IAU gedefinieer as alle klein Sonnestelselliggame met wentelbane wat nader as 1,3 AE van die Son af is (1 AE is die afstand tussen die Aarde en die Son).[23] Dit sluit groter liggame soos planete (byvoorbeeld Venus) uit, asook natuurlike satelliete wat om ander liggame as die Son wentel (soos die Aarde se Maan) en kunsmatige liggame wat om die Son wentel. 'n NAV is dus óf 'n nabyaarde-asteroïed (NAA) óf 'n nabyaardekomeet (NAK).
Die IAU beperk hulle definisie van NAV's verder tot voorwerpe met 'n wentelperiode van minder as 200 jaar. Dit het veral op komete betrekking.[24][25] Dié benadering is egter nie universeel nie. Sommige skrywers beperk die definisie verder tot wentelbane wat minstens gedeeltelik verder as 0,983 AE van die Son af is.[6][26] NAV's is dus nie noodwendig tans naby aan die Aarde nie, maar het die potensiaal om relatief naby aan die Aarde te kom. Baie NAV's het ingewikkelde wentelbane vanweë konstante versteurings deur die Aarde se swaartekrag.[27]
Die wentelbaan van sommige NAV's kruis dié van die Aarde en hulle hou dus 'n botsingsgevaar in.[7] Hulle word beskou as potensieel gevaarlike voorwerpe (PGV's) as hulle geraamde deursnee groter as 140 meter is. PGV's sluit potensieel gevaarlike asteroïede in.[28][29] Laasgenoemde word gedefinieer geskoei op twee parameters: hoe gevaarlik naby hulle aan die Aarde kan kom en die geraamde gevolge as hulle met die Aarde sou bots.[24]
Dit sluit voorwerpe in met 'n absolute magnitude van helderder as 22 ('n rowwe aanduiding van hulle grootte). Voorwerpe wat óf nie nader as 0,05 AE (7 500 000 km) aan die Aarde kan kom nie óf 'n magnitude van dowwer as 22 ('n deursnee van kleiner as 140 m en 'n aanvaarde albedo van 14%) het, word nie as PGV's beskou nie.[24]
Mens se bewustheid van NAV's

Die eerste nabyaardevoorwerpe wat die mens waargeneem het, was komete. Hulle buiteaardse aard is eers in 1577 besef en bevestig nadat Tycho Brahe probeer het om die afstand van 'n komeet deur sy parallaks te bereken. Die laagste perk wat hy verkry het, was ver groter as die Aarde se deursnee.
Die periodisiteit van sommige komete is eers in 1705 besef, toe Edmond Halley sy baanberekings gepubliseer het vir die terugkerende voorwerp wat nou as Halley se Komeet bekend is.[30] Die terugkeer van Halley se Komeet in 1758-'59 was die eerste keer dat die verskyning van 'n komeet voorspel is.[31]
Die buiteaardse aard van meteore (verskietende sterre) is eers in 1833 besef ná ontledings van die Leonide-meteoorreën deur die sterrekundige Denison Olmsted. Die periode van 33 jaar van die Leonides het sterrekundiges laat vermoed hulle kom van 'n komeet wat vandag as 'n NAV geklassifiseer sou word. Dit is in 1867 bevestig toe sterrekundiges uitvind die pas ontdekte komeet 55P/Tempel-Tuttle het dieselfde wentelbaan as die Leonides.[32]
Die eerste nabyaarde-asteroïed wat ontdek is, was 433 Eros in 1898.[33] Die asteroïed was die onderwerp van verskeie intensiewe waarnemingsveldtogte, hoofsaaklik omdat die meting van sy wentelbaan gelei het tot 'n presiese bepaling van die destyds onperfek bekende afstand tussen die Aarde en die Son.[34]
Nabye naderings
Teen 2019 is net 23 komete waargeneem wat binne 0,1 AE (15 000 000 km) verby die Aarde beweeg het. Tien van hulle is of was korttermynkomete.[35] Twee of drie van hulle, soos Halley se Komeet, is verskeie kere van naby gesien.[35] Die naaste komeet aan die Aarde was Lexell se Komeet op 1 Julie 1770, by 0,0151 AE (5,88 maanafstande).[35] Nadat dit in 1779 naby Jupiter verbybeweeg het en sy wentelbaan verander is, is dit nie meer 'n NAV nie. Die naaste huidige korttermynkomeet was Komeet Tempel-Tuttle in 1366 by 0,0229 AE (8,92 maanafstande).[35]
In 1937 is die asteroïed 69230 Hermes van 800 m breed ontdek toe dit teen twee maanafstande van die Aarde af verbybeweeg het.[36] Op 14 Junie 1968 het die asteroïed 1566 Icarus van 1,4 km breed sowat 0,0425 AE (6 360 000 km of 16,5 maanafstande) van die Aarde af verbybeweeg.[37] Dit is die eerste kleinplaneet wat met radar opgespoor is terwyl dit die Aarde genader het.[38][39]
Die eerste nabyaarde-asteroïed wat nader as die afstand van die Maan verby die Aarde beweeg het, was 1991 BA, 'n liggaam van 5-10 m breed, op 170 000 km.[40] Namate NAV-opsporings verbeter het, is een sodanige liggaam sedert 2001 elke jaar waargeneem, minstens 'n dosyn sedert 2005 en meer as 100 sedert 2020.[41][42]
Op 8 November 2011 het (308635) 2005 YU55 (van sowat 400 m in deursnee) binne 324 600 km (0,85 maanafstande) van die Aarde af verbybeweeg. Tien weke later, op 27 Januarie 2012, het die 10 m breë asteroïed 2012 BX34 net 60 000 km van ons af verbygetrek.[43] Op 15 Februarie 2013 het 367943 Duende (2012 DA14) sowat 27 700 km van die Aarde se oppervlak af verbybeweeg. Dit is nader as satelliete in ’n geosinchroniese wentelbaan. Die asteroïed kon nie met die blote oog gesien word nie.
Teen Desember 2024 was die naaste afstand aan die Aarde sonder 'n atmosferiese of grondbotsing die 5-11 m breë asteroïed 2020 VT4 op 14 November 2020,[42] met 'n minimum afstand van sowat 6 750 km van die Aarde se middelpunt af, of 380 km van sy oppervlak af.[44]
Aardskeerders
Sommige klein asteroïede wat die Aarde se boonste atmosfeer teen 'n vlak hoek binnekom, verlaat weer die atmosfeer ongeskonde en sit hulle wentelbaan om die Son voort. Vanweë die branding van hulle oppervlak in die atmosfeer kan sulke voorwerpe as 'n aardskeerdersvuurbal waargeneem word.
Op 10 Augustus 1972 is 'n meteoor wat as die Groot Dagligvuurbal van 1972 bekend geword het, deur baie mense gesien en selfs afgeneem terwyl dit noordwaarts oor die Rotsgebergte na Kanada beweeg het.[45] Dit was binne 58 km van die Aarde se oppervlak af.[46]
Op 13 Oktober 1990 is die aardskeerdersmeteoroïed EN131090 bo Tsjeggo-Slowakye en Pole gesien terwyl dit teen 41,74 km/s van suid na noord beweeg het. Sy naaste afstand aan die aardoppervlak was 98,67 km.[47]
Botsings
Wanneer 'n nabyaardevoorwerp die Aarde tref, ontplof voorwerpe met 'n deursnee van tot 'n paar dosyn meter in die mesosfeer. Die meeste of al die soliede materiaal verdamp en net 'n paar klein stukkies meteoriet bereik die aardoppervlak. Groter voorwerpe tref die water en vorm tsoenamigolwe of tref die grond en vorm slagkraters.[48]
Die bestudering van slagkraters dui daarop dat die frekwensie die afgelope 3,5 miljard jaar min of meer dieselfde gebly het, wat beteken die NAV-populasie word voortdurend deur die hoofasteroïedgordel aangevul.[6] Een botsingsmodel beraam die tyd tussen botsings deur twee rotsasteroïede met 'n deursnee van minstens 4 m op een jaar; vir asteroïede van 7 m breed (wat in 'n botsing soveel energie vrystel as die atoombom wat op Hirosjima geval het: sowat 15 kiloton TNT) op vyf jaar; vir dié van 60 m breed ('n ontploffing van 10 megaton, verglykbaar met die Toengoeska-voorval in 1908) op 1 300 jaar; vir dié van 1 km breed op 440 000 jaar; en vir dié van 5 km breed op 18 miljoen jaar.[49] Sommige ander modelle stel dieselfde frekwensies voor,[6] terwyl nog ander hoër frekwensies voorstel.[50] Vir Toengoeska-grootte-botsings wissel die raming tussen een voorval elke 2 000 tot 3 000 jaar en een elke 300 jaar.[50]
Die tweede grootste waargenome voorval naas die Toengoeska-voorval was 'n lugontploffing van 1,1 megaton in 1963 naby die Prins Eduard-eilande tussen Suid-Afrika en Antarktika. Dit is egter slegs deur ultraklanksensors waargeneem,[51][52] en dit het gelei tot gissings dat dit dalk 'n kerntoets was.[53]
Die derde grootste en verreweg bes waargenome voorval was die Tsjeljabinsk-meteoor van 15 Februarie 2013. 'n Voorheen onbekende asteroïed van 20 m breed het bo dié Russiese stad ontplof met 'n energie gelyk aan 400-500 kiloton.[51] Die berekende wentelbaan van die asteroïed voor die ontploffing is soortgelyk aan dié van 2011 EO40, en laasgenoemde was dus moontlik die meteoor se moederliggaam.[54]
Die Aarde is nie die enigste liggaam wat deur botsings in die gesig gestaar word nie. Botsings teen die Maan kan waargeneem word as flitse lig wat gewoonlik 'n breukdeel van 'n sekonde duur.[55] Die eerste maanbotsings is afgeneem tydens die Leonide-meteoorreën van 1999.[56] 'n Maanbotsing op 11 September 2013 het 8 sekondes geduur en is waarskynlik veroorsaak deur 'n voorwerp van 0,6 tot 1,4 m breed.[57] Dit het 'n nuwe krater van 40 m breed geskep: die grootste een wat nog gesien is (soos in Julie 2019).[58]
Risiko

Die moontlikheid van die katastrofiese gevolge van botsings met nabyaardekomete is besef die oomblik dat berekenings van die eerste wentelbane gedoen is. In 1694 het Edmond Halley 'n teorie voorgestel dat Noag se vloed in Genesis deur 'n komeetbotsing veroorsaak is.[59]
Wetenskaplikes het in die 1980's die gevaar van botsings begin besef wat veel groter slagkraters skep as wat die botsende voorwerp is en wat indirekte gevolge vir 'n selfs groter gebied inhou. Dit was terwyl bewyse al hoe duideliker geword het dat die Kryt-Paleogeen-uitwissing van 65 miljoen jaar gelede (waarin alle nievlieënde dinosourusse uitgesterf het) veroorsaak is deur 'n groot asteroïedbotsing.[60][61]
Op 23 Maart 1989 het die Apollo-asteroïed 4581 Asklepios (1989 FC), met 'n deursnee van 300 m, die Aarde met 700 000 km gemis. As dit die Aarde getref het, sou dit die grootste ontploffing in menseheugenis veroorsaak het, soortgelyk aan 20 000 megaton TNT. Dit het wyd aandag getrek, want dit is eers opgespoor nadat dit sy naaste afstand van die Aarde af bereik het.[62]
Van die 1990's af was 'n tipiese verwysingsraamwerk vir die soeke na NAV's die wetenskaplike begrip "risiko". Die publiek het bewus geword van botsingsrisiko's ná die botsing van fragmente van Komeet Shoemaker-Levy 9 met Jupiter in Julie 1994.[60][61] In Maart 1998 het vroeë wentelbaanberekings vir die pas ontdekte asteroïed (35396) 1997 XF11 gewys dit sal in 2028 net 0,00031 AE (46 000 km) van die Aarde af kom, veel nader as die Maan, maar met 'n groot foutmarge wat beteken het dit sou die Aarde dalk regstreeks tref. Latere data het die afstand tot 0,0064 AE (960 000 km) vergroot, sonder die kans van 'n botsing. Teen daardie tyd het onakkurate berigte van 'n moontlike botsing reeds 'n mediastorm veroorsaak.[63]
In 1998 het die rolprente Deep Impact en Armageddon die idee gewild gemaak dat nabyaardevoorwerpe katastrofiese gevolge kan hê.[61] In dié tyd was daar ook 'n samesweringsteorie dat 'n planeet met die naam Nibiru die Aarde in 2003 sou tref. Die datum is later op die internet na 2012 en nog later na 2017 verskuif.[64]
Risikoskale

Daar is twee skemas vir die wetenskaplike klassifikasie van moontlik gevaarlike NAV's:
- Die Torino-skaal
- Die Palermo-skaal
Die Torino-skaal gee 'n telling ('n heelgetal tussen 0 en 10) aan die risiko van botsings in die volgende 100 jaar volgens die botsingsenergie en botsingsmoontlikheid:[65][66]
- 0 en 1 vir voorvalle wat nie vir sterrekundiges of die publiek van belang is nie;
- 2 tot 4 vir voorvalle wat sterrekundiges aanspoor om beter wentelbaanberekenings te doen, maar van geen belang vir die publiek is nie;
- 5 tot 7 vir botsings wat nie vir seker is nie, maar waarvan die publiek behoort kennis te neem en wat stappe van die regering verg;
- 8 tot 10 sal gebruik word vir botsings wat vir seker is en groot skade kan aanrig.
Die ingewikkelder Palermo-skaal is in 2002 gevestig. Die tellings kan negatiewe of positiewe getalle wees. Voorvalle van enige belang het 'n positiewe telling.[67]
Nasa hou 'n rekord, die Sentry Risk Table, van die bedreiging van NAV's vir die volgende 100 jaar en dit word voortdurend bygewerk.[68] Al die voorwerpe op die lys, of byna almal, sal uiteindelik verwyder word namate meer waarnemings in ag geneem word en die gevaar van botsings kleiner word.[68][69]
Voorwerpe met 'n hoë risiko
In Maart 2002 was (163132) 2002 CU11 die eerste asteroïed met 'n tydelike positiewe telling op die Torino-skaal, met 'n kans van 1 uit 9 300 om die Aarde in 2049 te tref.[70] Ná verdere waarnemings is die geraamde risiko tot nul verlaag en die voorwerp is in April 2002 van die Sentry Risk Table verwyder.[71] Dit is nou bekend dat dit oor die volgende twee eeue op 'n veilige afstand verby die Aarde sal beweeg, met 'n naaste afstand (perigeum) van 0,00425 AE (636 000 km) op 31 Augustus 2080.[72]

Die asteroïed (29075) 1950 DA het 'n deursnee van omtrent 1 km, en daarom sal 'n botsing wêreldwyd katastrofies wees. Hoewel dit die Aarde nie binne die volgende 800 jaar sal tref nie en dus nie 'n Torino-telling het nie, is dit in April 2002 op die Sentry-lys geplaas as die eerste voorwerp met 'n Palermo-skaalwaarde van groter as 0.[23][73] Teen Maart 2025 was die moontlikheid van 'n botsing 1 uit 2 600.[68]
Op 24 Desember 2004, vyf dae ná sy ontdekking, het die asteroïed 99942 Apofis van 370 m 'n telling van 4, die hoogste telling nog, op die Torino-skaal gekry. Volgens die inligting van destyds was die kans dat 2004 MN4, die voorlopige naam waaronder dit toe bekend was, die Aarde in April 2029 sou tref 1,6%.[74] Namate inligting oor die volgende drie dae ingesamel is, het die kans aanvanklik tot 2,7% gestyg,[75] en daarna tot nul gedaal.[76] Apofis is in Februarie 2021 van die Sentry Risk Table verwyder.[71]
Teen Maart 2025 het 2010 RF12 die hoogste telling op die Sentry List Table gehad, met 'n kans van 1 uit 10 van 'n botsing op 5 September 2095.[68] Dit is net 7 m breed en dus te klein om as 'n potensieel gevaarlike voorwerp beskou te word. Dit hou geen ernstige gevaar in nie: Die moontlike 2095-botsing het dus tot -2,97 op die Palermo-skaal gedaal.[68]
In Januarie 2025 het die asteroïed 2024 YR4 van 55 m 'n telling van 3 op die Torino-skaal gekry vir 'n moontlike botsing op 22 Desember 2032. Dit het gelei tot 'n aksieplan om die asteroïed met kragtiger teleskope dop te hou terwyl dit wegbeweeg en dowwer word om sy wentelbaan beter te bepaal en die botsingsrisiko so te verfyn.[77] In Februarie 2025 het die risiko 'n hoogtepunt van 1 uit 32 bereik, maar daarna het dit afgeneem tot onder 1 uit 1 000. Die Torino-skaal het die punt na 0 afgebring.[78] Teen Maart 2025 was die botsingsrisiko vir 2032 net 1 uit 120 000.[68] Teen April is egter geraam 2024 YR4 het 'n kans van 4% om die Maan op 22 Desember 2032 te tref.[79][80]
Projekte om gevaar te verminder
'n Jaar voor die asteroïed Icarus se nabye nadering in 1968 het studente van die Massachusetts-instituut vir Tegnologie Projek Icarus van stapel laat loop om 'n plan te bedink om die asteroïed met vuurpyle weg te keer as ontdek sou word dit gaan teen die Aarde bots.[81] Dit het wye mediadekking gehad en die rampfliek Meteor van 1979 geïnspireer. Daarin span die VSA en USSR saam om 'n fragment van 'n asteroïed wat na die Aarde op pad was nadat die asteroïed deur 'n komeet getref is weg te keer.[82]
Die eerste sterrekundige program vir die opsporing van nabyaarde-asteroïede was die Palomar-opname van planeetkruisende asteroïede. Die behoefte aan spesifieke teleskope vir dié doel en opsies om 'n moontlike botsing te voorkom is in 1981 die eerste keer op 'n konferensie in Snowmass, Colorado, bespreek.[61] Planne vir 'n omvattender opname, die Spaceguard Survey, is van 1992 af deur Nasa ontwikkel.[83][84] Om die opname op 'n internsionale vlak te bevorder het die IAU 'n werksessie in 1995 in Italië gehou[83] en 'n jaar later die Spaceguard Foundation in Italië geloods.[85]

In 1998 het die Amerikaanse Kongres Nasa 'n mandaat gegee om 90% van nabyaarde-asteroïede van breër as 1 km teen 2008 op te spoor.[84][9]
Opnames in verskeie lande het Spaceguard-bedrywighede begin. As gevolg daarvan het die verhouding van bekende en geraamde nabyaarde-asteroïede breër as 1 km gestyg van 20% in 1998 tot 65% in 2004,[85] 80% in 2006[9] en 93% in 2011. Teen Desember 2024 is 867 NAV's breër as 1 km ontdek.[86]
In 2005 is 'n beroep op Nasa gedoen om 90% van NAV's breër as 140 m teen 2020 op te spoor.[87] In Januarie 2016 het Nasa die stigting van die Planetary Defense Coordination Office aangekondig om pogings te koördineer, maar sonder bogenoemde sperdatum.[5][88] In September 2020 is geraam dat die helfte reeds ontdek is, hoewel voorwerpe van dié grootte die Aarde net een keer in sowat 30 000 jaar tref.[89]
Die ATLAS-projek probeer daarenteen om gevaarlike asteroïede kort voor 'n botsing op te spoor: veels te laat vir 'n wegkeeraksie, maar nog betyds om die gebied te ontruim en ander voorbereidings te tref.[90]
Wetenskaplikes wat by NAV-navorsing betrokke is, oorweeg ook opsies om asteroïede weg te keer as dit blyk dat dit die Aarde gaan tref.[61] Alle metodes is daarop gmik om die voorwerp van rigting te laat verander eerder as om dit te vernietig, want fragmente kan steeds grootskaalse verwoesting saai.[91] Dit beteken die voorwerp se wentelbaan moet maande of jare voor 'n voorspelde botsing verander word.[91]
Getal en klassifikasie
Wanneer 'n NAV ontdek word, word sy posisie en helderheid, nes met ander klein Sonnestelselliggame, na die IAU se Kleinplaneetsentrum gestuur om te katalogiseer. Teen Desember 2024 was 37 378 NAV's ontdek. Daar is 2 465 NAV's wat geklassifiseer is as potensieel gevaarlike asteroïede (PGA's). Almal buiten 106 se deursnee is minder as 50 meter.
Nabyaarde-asteroïede wat kleiner as ~1 meter is, is nabyaardemeteoroïdes. Hulle word op die meeste asteroïedtabelle as asteroïede gelys. Die kleinste nabyaardemeteoroïde is 2008 TS26, met ’n absolute magnitude van 33 en ’n geraamde deursnee van net 1 meter.[92]
Nabyaarde-asteroïede


Dit is voorwerpe in ’n wentelbaan na aan die Aarde sonder die koma, of stert, van ’n komeet. Die samestelling van nabyaarde-asteroïede is min of meer dieselfde as dié in die asteroïedgordel, dus van ’n verskeidenheid spektraaltipes.[93] Nabyaarde-asteroïede oorleef net ’n paar miljoen jaar in hulle wentelbaan.[6] Hulle word eindelik uit die weg geruim deur planeetversteurings, wat veroorsaak dat hulle óf uit die Sonnestelsel gewerp word óf teen die Son of ’n planeet bots. Die getal asteroïede wat naby die Aarde waargeneem word, kan verduidelik word aan die hand van die feit dat nuwe asteroïede voortdurend in nabyaardewentelbane inbeweeg. Hulle aanvaarde oorsprong is die asteroïedgordel, van waar hulle na die binneste Sonnestelsel beweeg omdat hulle wentelresonansie met Jupiter hulle wentelbane versteur. Die asteroïedgordel het gapings, bekend as Kirkwoodgapings, wat ontstaan deur asteroïede wat in ander wentelbane geskuif word. Nuwe asteroïede beweeg dan in die gapings in en dit veroorsaak ’n voortdurende toename in nabyaarde-asteroïede. ’n Klein aantal NAV's is uitgedoofde komete wat hulle vlambare oppervlakmateriaal verloor het.
Die asteroïed met die grootste bekende kans om die Aarde te tref (1 uit 16; op 5 September 2095) is 2010 RF12. Vanweë sy deursnee van sowat 7 m sal hy waarskynlik nie groot skade aanrig nie.
Nabyaarde-asteroïede word geklassifiseer volgens hulle halwe lengteas (a), perihelium (q; kleinste afstand van die Son af) en afelium (Q, grootste afstand van die Son af):[2][6]
- Die Atiras of Apohele het wentelbane wat streng binne dié van die Aarde bly: ’n Atira se afelium (Q) is kleiner as die Aarde se perihelium (0,983 AE). Dus is Q < 0,983 AE. (Dit dui daarop dat die asteroïed se halwe lengteas ook minder as 0,983 AE is.)
- Die Atens het ’n halwe lengteas van minder as 1 AE en kruis die Aarde se wentelbaan. Dus is a < 1 AE en Q > 0,983 AE.
- Die Apollo's het ’n halwe lengteas van meer as 1 AE en kruis die Aarde se wentelbaan. Dus is a > 1 AE en q < 1,017 AE (1,017 AE is die Aarde se afelium.)
- Die Amors se wentelbane lê streng buite dié van die Aarde. Dus is q > 1,017 AE. Amors is ook NAV's en dus is q < 1,3 AE. Dus is 1,017 AE < q < 1,3 AE. (Dit dui daarop dat Amors se halwe lengteas ook groter as 1,017 AE is.) Sommige Amors kruis Mars se wentelbaan.
Atiras en Amors kruis dus nie die Aarde se wentelbaan nie en hou nie onmiddellike impakgevaar in nie, maar hullele wentelbane kan verander en in die toekoms die Aarde se wentelbaan kruis.
Nabyaardekomete
In Februarie 2015 was 96 nabyaardekomete ontdek.[8] Hoewel daar geen bevestigde geval van ’n komeetbotsing met die Aarde is nie, kon die Toengoeska-voorval veroorsaak gewees het deur ’n fragment van Komeet Encke.[94] Brokstukke van komete kon ook verantwoordelik gewees het vir sommige botsings deur nabyaardevoorwerpe. Komete beweeg selde nader as 0,1 AE (15 000 000 km) by die Aarde verby.[95]
Sien ook
Verwysings
- ↑ Van Zyl, J.E. Ontsluier die heelal, Protea Boekhuis, Pretoria. Tweede uitgawe. 2002. Gedruk en gebind deur Interpak. SBN 191-9-8254-44
- 1 2 3 "NEO Groups" (in Engels). NASA/JPL Near-Earth Object Program Office. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Februarie 2017. Besoek op 4 Junie 2012.
- ↑ Richard Monastersky (1 Maart 1997). "The Call of Catastrophes" (in Engels). Science News Online. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2013. Besoek op 23 Oktober 2007.
- ↑ Rumpf, Clemens M.; Lewis, Hugh G.; Atkinson, Peter M. (23 Maart 2017). "Asteroid impact effects and their immediate hazards for human populations". Geophysical Research Letters. 44 (8): 3433–3440. arXiv:1703.07592. Bibcode:2017GeoRL..44.3433R. doi:10.1002/2017gl073191. ISSN 0094-8276. S2CID 34867206.
- 1 2 "NASA is opening a new office for planetary defense" (in Engels). extremetech.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Desember 2019. Besoek op 14 Januarie 2016.
- 1 2 3 4 5 6 Morbidelli, Alessandro; Bottke Jr., William F.; Froeschlé, Christiane; Michel, Patrick (Januarie 2002). W. F. Bottke Jr.; A. Cellino; P. Paolicchi; R. P. Binzel (reds.). "Origin and Evolution of Near-Earth Objects" (PDF). Asteroids III. University of Arizona Press: 409–422. Bibcode:2002aste.conf..409M.
- 1 2 Clark R. Chapman (Mei 2004). "The hazard of near-Earth asteroid impacts on earth". Earth and Planetary Science Letters. 222 (1): 1–15. Bibcode:2004E&PSL.222....1C. doi:10.1016/j.epsl.2004.03.004.
- 1 2 "NEO Discovery Statistics" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 April 2017. Besoek op 23 Februarie 2014.
- 1 2 3 Shiga, David (27 Junie 2006). "New telescope will hunt dangerous asteroids" (in Engels). New Scientist. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Junie 2015. Besoek op 15 November 2008.
- ↑ "WISE Revises Numbers of Asteroids Near Earth". NASA/JPL. 29 September 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Desember 2017. Besoek op 17 Mei 2012. (NASA Space Telescope Finds Fewer Asteroids Near Earth) Geargiveer 12 November 2020 op Wayback Machine
- ↑ "Potentially Hazard Asteroids" (in Engels). NASA/JPL Near-Earth Object Program Office. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Julie 2011. Besoek op 5 Mei 2011.
- ↑ NEO Earth Close Approaches Geargiveer 9 April 2017 op Wayback Machine at NASA/JPL Near-Earth Object Program Office
- ↑ Dan Vergano (2 Februarie 2007). "Near-Earth asteroids could be 'steppingstones to Mars'" (in Engels). USA Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 April 2012. Besoek op 22 Oktober 2007.
- ↑ Rui Xu; Pingyuan Cui; Dong Qiao; Enjie Luan (18 Maart 2007). "Design and optimization of trajectory to Near-Earth asteroid for sample return mission using gravity assists". Advances in Space Research. 40 (2): 200–225. Bibcode:2007AdSpR..40..220X. doi:10.1016/j.asr.2007.03.025.
{{cite journal}}: Onbekende parameter|last-author-amp=geïgnoreer (hulp) - ↑ Beatty, Kelly (4 November 2010). "Mr. Hartley's Amazing Comet". Sky & Telescope. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2023. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Savage, Donald & Buckley, Michael (31 Januarie 2001). "NEAR Mission Completes Main Task, Now Will Go Where No Spacecraft Has Gone Before". Press Releases. NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Junie 2016. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Lakdawalla, Emily (14 Desember 2012). "Chang'e 2 imaging of Toutatis". The Planetary Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 Bardan, Roxana (27 September 2022). "NASA's DART Mission Hits Asteroid in First-Ever Planetary Defense Test". Press Releases. Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Rincon, Paul (6 Desember 2020). "Hayabusa-2: Capsule with asteroid samples in 'perfect' shape". BBC News. BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Oktober 2023. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Loeffer, John (23 Januarie 2024). "NASA finally opens OSIRIS-REx asteroid sample canister after freeing stuck lid". Space.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Januarie 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Merzdorf, Jessica (15 Desember 2022). "Early Results from NASA's DART Mission". Press Releases. NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Dorminey, Bruce (31 Augustus 2021). "Does Commercial Asteroid Mining Still Have A Future?". Forbes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Augustus 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 "Near Earth Objects". IAU. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 3 "NEO Basics. NEO Groups". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Definitions & Assumptions". ESA NEOCC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Waszczak, Adam; Prince, Thomas A.; et al. (2017). "Small Near-Earth Asteroids in the Palomar Transient Factory Survey: A Real-Time Streak-detection System". Publications of the Astronomical Society of the Pacific. 129 (973). part 034402. arXiv:1609.08018. Bibcode:2017PASP..129c4402W. doi:10.1088/1538-3873/129/973/034402. ISSN 1538-3873. S2CID 43606524.
- ↑ Carlisle, Camille M. (30 Desember 2011). "Pseudo-moons orbit Earth". Sky & Telescope. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Mei 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "List Of Potentially Hazardous Minor Planets (by designation)". IAU/MPC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Perna, D.; Barucci, M. A.; Fulchignoni, M. (2013). "The near-Earth objects and their potential threat to our planet". The Astronomy and Astrophysics Review. 21 (1): 65. Bibcode:2013A&ARv..21...65P. doi:10.1007/s00159-013-0065-4.
- ↑ Halley, Edmund (1705). A synopsis of the astronomy of comets. London: John Senex. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Stoyan, Ronald (2015). Atlas of Great Comets. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 101–103. ISBN 978-1-107-09349-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2018. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Dick, S. J. (Junie 1998). "Observation and interpretation of the Leonid meteors over the last millennium". Journal of Astronomical History and Heritage. 1 (1): 1–20. Bibcode:1998JAHH....1....1D. doi:10.3724/SP.J.1440-2807.1998.01.01.
- ↑ Scholl, Hans; Schmadel, Lutz D. (2002). "Discovery Circumstances of the First Near-Earth Asteroid (433) Eros". Acta Historica Astronomiae. 15: 210–220. Bibcode:2002AcHA...15..210S.
- ↑ "Eros comes on stage, finally a useful asteroid". Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 3 4 "Closest Approaches to the Earth by Comets". IAU/MPC. 16 Mei 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Augustus 2024. Besoek op 1 Januarie 2025.
- ↑ "Radar observations of long-lost asteroid 1937 UB (Hermes)". UCLA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2023. Besoek op 26 Januarie 2024.
- ↑ "Small-Body Database Lookup. 1566 Icarus (1949 MA)". NASA/JPL. 4 Augustus 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Januarie 2025. Besoek op 3 Januarie 2025.
- ↑ Pettengill, G. H.; Shapiro, I. I.; Ash, M. E.; Ingalls, R. P.; Rainville, L. P.; Smith, W. B.; et al. (Mei 1969). "Radar observations of Icarus". Icarus. 10 (3): 432–435. Bibcode:1969Icar...10..432P. doi:10.1016/0019-1035(69)90101-8. ISSN 0019-1035.
- ↑ Goldstein, R. M. (November 1968). "Radar Observations of Icarus". Science. 162 (3856): 903–904. Bibcode:1968Sci...162..903G. doi:10.1126/science.162.3856.903. PMID 17769079. S2CID 129644095.
- ↑ Scotti, J. V.; Rabinowitz, D. L.; Marsden, B. G. (28 November 1991). "Near miss of the Earth by a small asteroid". Nature. 354 (6351): 287–289. Bibcode:1991Natur.354..287S. doi:10.1038/354287a0.
- ↑ "Closest Approaches to the Earth by Minor Planets". IAU/MPC. 16 Mei 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2024. Besoek op 1 Januarie 2025.
- 1 2 "NEO Earth Close Approaches". NASA/JPL CNEOS. 2 Januarie 2025. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 1 Januarie 2025.
- ↑ "Asteroid makes near-miss fly-by" (in Engels). BBC. 27 Januarie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2020. Besoek op 28 Januarie 2012.
- ↑ Irizarry, Eddie (16 November 2020). "This asteroid just skimmed Earth's atmosphere". EarthSky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Grand Teton Meteor (video)". YouTube. 10 November 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Ceplecha, Z. (Maart 1994). "Earth-grazing daylight fireball of August 10, 1972". Astronomy & Astrophysics. 283 (1): 287−288. Bibcode:1994A&A...283..287C.
- ↑ Borovička, J.; Ceplecha, Z. (April 1992). "Earth-grazing fireball of October 13, 1990". Astronomy & Astrophysics. 257 (1): 323–328. Bibcode:1992A&A...257..323B. ISSN 0004-6361.
- ↑ Chapman, Clark R. & Morrison, David (6 Januarie 1994). "Impacts on the Earth by asteroids and comets: Assessing the hazard" (PDF). Nature. 367 (6458): 33–40. Bibcode:1994Natur.367...33C. doi:10.1038/367033a0. S2CID 4305299. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Marcus, Robert; Melosh, H. Jay & Collins, Gareth (2010). "Earth Impact Effects Program". Imperial College London / Purdue University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2024. Besoek op 2 Januarie 2025. (solution using 2600 kg/m^3, 17 km/s, 45 degrees)
- 1 2 Asher, D. J.; Bailey, M.; Emel'Yanenko, V.; Napier, W. (Oktober 2005). "Earth in the Cosmic Shooting Gallery". The Observatory. 125 (2): 319–322. Bibcode:2005Obs...125..319A.
- 1 2 David, Leonard (1 November 2013). "Russian fireball explosion shows meteor risk greater than thought". Space.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Silber, Elizabeth A.; Revelle, Douglas O.; Brown, Peter G.; Edwards, Wayne N. (2009). "An estimate of the terrestrial influx of large meteoroids from infrasonic measurements". Journal of Geophysical Research. 114 (E8). Bibcode:2009JGRE..114.8006S. doi:10.1029/2009JE003334.
- ↑ Allen, Robert S. (1963). "Antarctic Explosion Could Have Been Nuclear Detonation". The San Bernardino Sun (4 December). p. 40 col. f.
- ↑ de la Fuente Marcos, C.; de la Fuente Marcos, R. (1 September 2014). "Reconstructing the Chelyabinsk event: Pre-impact orbital evolution". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society: Letters. 443 (1): L39 – L43. arXiv:1405.7202. Bibcode:2014MNRAS.443L..39D. doi:10.1093/mnrasl/slu078. S2CID 118417667.
- ↑ "Lunar Impact Monitoring Program". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Observation and Interpretation of Meteoroid Impact Flashes on the Moon". Leonid Storm Research. (2000). Dordrecht: Springer. 575–598. DOI:10.1007/978-94-017-2071-7_42. ISBN 978-90-481-5624-5.
- ↑ Catanzaro, Michele (24 Februarie 2014). "Largest lunar impact caught by astronomers". Nature. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2021. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "MIDAS: Moon Impacts Detection and Analysis System. Main Results". Meteoroides.NET. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Colavito, Jason. "Noah's Comet. Edmond Halley 1694". Jasoncolavito.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 Fernández Carril, Luis (14 Mei 2012). "The evolution of near Earth objects risk perception". The Space Review. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 3 4 5 Chapman, Clark R. (7 Oktober 1998). "History of The Asteroid/Comet Impact Hazard". Southwest Research Institute. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Leary, Warren E. (20 April 1989). "Big Asteroid Passes Near Earth Unseen In a Rare Close Call". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2017. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Marsden, Brian G. (29 Maart 1998). "How the Asteroid Story Hit: An Astronomer Reveals How a Discovery Spun Out of Control". The Boston Globe. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Junie 2012. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Molloy, Mark (24 September 2017). "Nibiru: How the nonsense Planet X Armageddon and Nasa fake news theories spread globally". The Daily Telegraph. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2022. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Torino Impact Hazard Scale". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2025. Besoek op 14 Februarie 2025.
- ↑ Binzel, Richard P. (2000). "Torino Impact Hazard Scale". Planetary and Space Science. 48 (4): 297–303. Bibcode:2000P&SS...48..297B. doi:10.1016/S0032-0633(00)00006-4.
- ↑ "Palermo Technical Impact Hazard Scale". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2023. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 3 4 5 6 "Sentry Risk Table". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2025. Besoek op 2 Maart 2025.
- ↑ Chandler, David (2 Mei 2006). "Big new asteroid has slim chance of hitting Earth". New Scientist. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Milani, Andrea; Valsecchi, Giovanni; Sansaturio, Maria Eugenia (12 Maart 2002). "The problem with 2002 CU11". Tumbling Stone. Vol. 12. NEODyS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 29 Januarie 2018.
- 1 2 "Date/Time Removed". NASA/JPL CNEOS. 31 Desember 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Small-Body Database Lookup. 163132 (2002 CU11)". NASA/JPL. 6 Junie 2022. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "29075 (1950 DA) Analyses, 2001-2007". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Yeomans, D.; Chesley, S.; Chodas, P. (23 Desember 2004). "Near-Earth Asteroid 2004 MN4 Reaches Highest Score To Date On Hazard Scale". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Brown, Dwayne; Agle, DC (7 Oktober 2009). "NASA Refines Asteroid Apophis' Path Toward Earth". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Yeomans, D.; Chesley, S.; Chodas, P. (27 Desember 2004). "Possibility of an Earth Impact in 2029 Ruled Out for Asteroid 2004 MN4". NASA/JPL CNEOS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Sample, Ian (30 Januarie 2025). "Asteroid triggers global defence plan amid chance of collision with Earth in 2032". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2025. Besoek op 2 Februarie 2025.
- ↑ Lea, Robert (24 Februarie 2025). "'That's impact probability zero folks!' Earth safe from 'city-killer' asteroid 2024 YR4". Space.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2025. Besoek op 2 Maart 2025.
- ↑ "Asteroid impact threat estimates improved for the Earth and the Moon | University of Helsinki". www.helsinki.fi (in Engels). 2 April 2025. Besoek op 2 April 2025.
- ↑ Gray, Bill. "Risk Corridor for Gibbous Moon". Find_Orb. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Februarie 2025. Besoek op 18 Februarie 2025.
- ↑ Day, Dwayne A. (5 Julie 2004). "Giant bombs on giant rockets: Project Icarus". The Space Review. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 April 2016. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "MIT Course precept for movie" (PDF). The Tech. MIT. 30 Oktober 1979. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 11 Augustus 2014. Besoek op 15 November 2017.
- 1 2 (September 1995) "Vulcano Workshop. Beginning the Spaceguard Survey"., Vulcano, Italy: IAU. Geargiveer 13 Maart 2016 op Wayback Machine
- 1 2 Chapman, Clark R. (21 Mei 1998). "Statement on The Threat of Impact by Near-Earth Asteroids before the Subcommittee on Space and Aeronautics of the Committee on Science of the U.S. House of Representatives at its hearings on "Asteroids: Perils and Opportunities"". Southwest Research Institute. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 "NASA on the Prowl for Near-Earth Objects". NASA/JPL. 26 Mei 2004. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Augustus 2022. Besoek op 6 Maart 2018.
- ↑ "Discovery Statistics – Cumulative Totals". NASA/JPL CNEOS. 30 Desember 2024. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2025. Besoek op 1 Januarie 2025.
- ↑ "Public Law 109–155–DEC.30, 2005" (PDF). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 6 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Planetary Defense Coordination Office. Overview". NASA. 8 September 2023. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ Harris, Alan W.; Chodas, Paul W. (1 September 2021). "The population of near-earth asteroids revisited and updated". Icarus. 365. section 114452. Bibcode:2021Icar..36514452H. doi:10.1016/j.icarus.2021.114452.
- ↑ "ATLAS: The Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System". Astronomy. University of Hawaii at Mānoa Institute for Astronomy. 18 Februarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Junie 2023. Besoek op 2 Januarie 2025.
- 1 2 Report of the Task Force on potentially hazardous Near Earth Objects (PDF). Londen: British National Space Centre. September 2000. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2024. Besoek op 2 Januarie 2025.
- ↑ "Conversion of Absolute Magnitude to Diameter". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2013. Besoek op 7 April 2016.
- ↑ D.F. Lupishko; T.A. Lupishko (Mei 2001). "On the Origins of Earth-Approaching Asteroids". Solar System Research. 35 (3): 227–233. Bibcode:2001SoSyR..35..227L. doi:10.1023/A:1010431023010.
{{cite journal}}: Onbekende parameter|last-author-amp=geïgnoreer (hulp) - ↑ Kresak, L'. (1978). "The Tunguska object – A fragment of Comet Encke". Astronomical Institutes of Czechoslovakia. 29. Astronomical Institutes of Czechoslovakia: 129. Bibcode:1978BAICz..29..129K.
- ↑ "Closest Approaches to the Earth by Comets" (in Engels). Minor Planet Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2017. Besoek op 28 Junie 2012.
Skakels
- Near earth object program Geargiveer 23 Augustus 2011 op Wayback Machine – Jet Propulsion Laboratory (JPL)
- Observable Near-Earth Asteroids Geargiveer 7 Januarie 2013 op Wayback Machine – Lowell-sterrewag
- Table of Asteroids Next Closest Approaches to the Earth – Sormano-sterrewag
- Earth In The Cosmic Shooting – D.J. Asher, The Observatory, 2005
- Catalogue of the Solar System Small Bodies Orbital Evolution – Tegniese Universiteit Samara
- Current Map Of The Solar System Geargiveer 13 Mei 2017 op Wayback Machine – Armagh-sterrewag
- NAV's – Minor Planet Center
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Nabyaardevoorwerp.
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
